Kovsies was die jongste slagoffer van die NWU Varsitybekerspan se goeie vorm in die 2023 Varsity Netbaltoernooi toe hulle met 43-36 teen die Potchefstromers op Maandag, 28 Augustus verloor het.
Die onoorwonne NWU, onder die afrigting van Elsunet du Plessis, het in ‘n moeilike wedstryd hulle kaarte reg gespeel om hulle tradisionele teenstanders te klop.
Foto’s: Christiaan Kotze/C & C Photo Agency/Asem Engage
Die NWU doel, Sunel Smit, het haar tweestryd met die Kovsie-verdediger, Ané Retief, gewen op die dag, terwyl Tlotlang Mokomela en senter, Jomari Lubbe, weer puik met hul distribusie op die baan was.
Dit was juis ‘n eerste helfte blitzkrieg wat die fondasie van die NWU se oorwinning gebou het en die wind uit Kovsies se seile geblaas het.
Hierdie oorwinning plaas die NWU stewig in die tweede plek op die punteleer net agter Tukkies wat ook nog nie ‘n wedstryd vanjaar verloor het nie.
Tukkies het Maties ook gisteraand met 60-38 verniel om ʼn weet te wys dat hulle sterk aanspraakmakers in vanjaar se kompetisie is.
Die NWU het nog twee wedstryde oor in die groepfase teen die Madibaz (3 September om 19:00) en teen Tukkies (Maandag, 4 September om 19:00).
Die wedstryd teen Tukkies sal bepaal wie boaan die punteleer eindig.
Punteleer na vyf rondtes:
- Tukkies – 20 punte
- NWU – 20 punte
- UJ – 14 punte
- Maties – 12 punte
- Kovsies – 8 punte
- Wits – 5 punte
- Madibaz – 5 punte
- UWK – 5 punte