Die NWU gaan hul fokus moet verskerp vir hulle Varsity Netbal halfeindstryd teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) hierdie komende Maandag, 11 September.
Die NWU het in die tweede plek op die punteleer geëindig na die groepfase, maar sal steeds weg van die huis af speel teen UJ, weens die feit dat die NWU vanjaar nie tuiswedstryde speel nie.
Dit was ‘n moeilike week vir die NWU wat hulle onoorwonne rekord moes prysgee in vanjaar se kompetisie toe hulle Maandag, 4 September teen Tukkies met 67-52 vasgeval het.
Hierdie stryd tussen die twee groot kanonne in vanjaar se kompetisie het baie beloof, maar Tukkies het te veel skietgoed op die dag vir die NWU gehad om die oorwinning te vat. Hierdie nederlaag mag dalk net wees wat die NWU nodig het om weer hul fokus op die titel te plaas.
Die NWU is slegs twee goeie vertonings weg van die titel af en hulle sal dit in gedagte hou hierdie komende Maandag teen ‘n UJspan wat glad nie onderskat moet word nie. UJ, onder die afrigting van Bongi Msomi, het beide vir Kovsies en Maties vanjaar geklop om die derde plek hul eie te maak. Hulle sal doelgerig wees om voor hul tuisskare vir die eerste keer ‘n plek in die eindstryd te bespreek.
Die NWU sal ook self weer die eindstryd wil haal waar ‘n ontmoeting met Tukkies of Maties wag. Die Pretorianers is die oorweldigende gunsteling om die eindstryd te haal, maar Maties mag dalk vir ‘n verrassing sorg. Volgens NWU afrigter, Elsunet du Plessis, het hul nie hul beste vertoning teen Tuks gelewer nie.
“Ons het nie genoeg opsies op aanval gegee nie, wat dan veroorsaak het dat ons besluitneming swak was. Ons sal moet werk aan ons aanval en om balbesit te behou,” het sy genoem.
Goeie nuus vir die NWU is dat hul Protea-doel, Elmeré van der Berg, terug in die groep is en ‘n ekstra aanvallende wapen bied.
Sunel Smit en Caitlin du Plessis sal ook op hul stukke moet wees in die doelsirkel.
Die NWU en UJ kom teen mekaar te staan op Maandag, 11 September om 17:00 by UJ.



