SportSport

Mooirivier aflosspan breek 17 jaar oue swemrekord

Hierdie ses swemmers van Laerskool Mooirivier het die vorige ouderdomsleër 6x25 meter vryslag aflosrekord met 2 sekondes laat spat.

Rekords is daar om gebreek te word. Dit is presies wat ses van Laerskool Mooirivier se swemmers gedoen het toe hulle ‘n 17 jaar oue rekord by die Super 12 skole-swemgala gebreek het.

Hierdie aflosspan wat uit Millay de Kock (8), Skye Taute (9), Dané de Kock (10), Mienke Rutherford (11), Irma Kotze (12) en Inneke Liebenberg (13), bestaan, het die vorige ouderdomsleër 6×25 meter vryslag aflosrekord met 2 sekondes laat spat.

Die vorige rekord was 1:37.67 wat Laerskool Pietersburg-Oos in 2006 opgestel het. Nou het Mooirivier die rekord agter hul naam met ‘n indrukwekkende tyd van 1:35.85.

Hierdie Super 12 byeenkoms het Saterdag, 28 Oktober by Trinity House College in Johannesburg plaasgevind.

Dit is hier waar skole hul staal wys en behoorlik kan spog met die talent en diepte van hul swempoel. In hierdie opwindende aflos swem die ses sterkste swemmers van graad 2 tot graad 7 teen die nege kompeterende skole.

Hierdie ses Tokkies was op die dag selfs vinniger as die seuns wenspan van Laerskool Menlopark. Mooirivier is ook algeheel as die naaswenners van die Super 12-galabyeenkoms aangewys.

Die geheim agter hierdie aflosspan se sukses is te danke aan ‘n sterk fondament, korrekte tegniek en ‘n liefde vir swem. Al die dogters het ‘n geruime tyd by Aquazone Swim Academy spandeer en is tans deel van die Potchefstroom Swemklub.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button