
Ferdies het 2024 op ‘n goeie noot afgesluit met puik vertonings tydens die NWU prestige sewes reeks.
Dit sal aan hulle die geloof gegee het om nog ‘n bietjie verder in vanjaar se Bayer liga te gaan. Volgens hoofafrigter van Ferdies se 1ste XV, Donnavan Serfontein het vanjaar se span ‘n baie goeie kans om die liga te wen.
“Die NWU se sewes toernooi het vir almal bewys dat Ferdies nie net ‘n akademiese skool is nie. Ons het n drie jaar plan met hierdie groep seniors van ons. Vanjaar is jaar twee van die plan,” het Serfontein gesê.
Dit lyk of die drie jaar plan begin vrugte pluk met Ferdies wat ‘n sterk kandidaat vir vanjaar se trofee gaan wees. Maklik sal dit gewis nie vir die Potchefstromers wees nie. Daar is taai kompetisie vir die titel van Bayer liga kampioene. Ferdies het verlede jaar vierde in die liga geëindig en ‘n liga wen, is nie ‘n buitensporige doel vir diè span nie.
Spanne soos, Christiana en Koster klop altyd aan die deur. Christiana het verlede jaar die liga gewen.
“Vanjaar gaan Christiana ons moeilikste wedstryd wees. Hulle het n goeie senior groep. Koster was jaar op jaar ons grootste kompetisie maar laesjaar het ons ook bewys dat dit nie so gaan wees elke jaar nie,” verduidelik Serfontein.
Ferdies se eerste wedstryd is sommer reeds teen een van die grootste kompetisie, in die vorm van Christiana op 12 April. Waarna teen nuwelinge Milner, van Klerksdorp te staan kom, voor hulle een van die ander groot honde, Koster aanpak.
Die begin van Ferdies se seisoen sal bepalend in die liga wees. ‘n Uitdaging wat die manne van Ferdies met albei hande sal wil aanpak. Alhoewel hulle een van hulle sterk spelers, William Avis, na ‘n groot skool in Pretoria verloor het, het Ferdies nog baie skietgoed.
Tirelo Mgqamqo, is blits vinnig en het ‘n goeie oog vir die spel, terwyl Karl Engles wat verlede jaar by die senior groep aangesluit het, net beter en beter word. Ferdies moet hulle momentum van verlede jaar behou om daadwerklik op vanjaar se liga aanspraak te maak.
Volg die skakel vir volledige bepalings en varste rugby-nuus
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/local-rugby-hub/



