
Wesvalia het ‘n historiese seisoen in 2024 beleef, die skool wat vanjaar 50 jaar oud is, het die Skild afdeling van die Noordvaal toernooi gewen. Die 1ste XV was in die NWU prestige reeks se eindstryd die spreekwoordelike Dawid teen Noordheuwel. Alhoewel die Bruin bere die knie teen Noordheuwel moes buig, was almal se lippe los oor die goeie rugby wat die Klerksdorpers gespeel het.
In Engels gebruik hulle die woord ‘conquer’, dit beskryf wat Wesvalia in 2024 gedoen het die beste. Hulle het die Skild afdeling ge ‘conquer’ Die vraag is sal hulle, soos die Romeine van ouds, aanhou kan oorvat?
Volgens Willem van der Sandt, Direkteur van Rugby by Wesvalia, wil hulle altyd alles wen, maar besef hy dit is nie ‘n gedane saak in die nuwe, hoër liga nie.
“Ek dink ons het die beste afrigtingspan in ten minste die Noordwes, so ons gaan met baie vertroue en momentum in die liga ingaan,” het hy gesê.
Die Klerksdopers se ander ouderdomsgroepe het ook almal in ten minste die Skild se halfeindstryd gespeel, met die o.15s wat naaswenners was, en die o.14s wat ook die liga gewen het. Die o.16 span het in die halfeindstryd verloor. Dit wys dat daar goed vir die toekoms gebou word.
Van der Sandt is bekend vir sy slim werwing van spelers sowel as afrigters en dit wys in die resultate wat die spanne verlede jaar gekry het.
“Daar is agt provinsiale spelers wat volgende jaar ook na ons toe kom, so dit is weer ‘n sterk o.14 groep vir vanjaar. Ons is positief dat ons baie kompeterend in die liga gaan wees,” verduidelik hy.
Dit is ook weer die eerste keer sedert 2019 wat Wesvalia teen hulle ou vyande Klerksdorp Hoërskool in ‘n liga gaan uitdraf. Die wedstryd sal beslis vir almal in Klerksdorp ‘n hoogtepunt op die kalender wees. Dit is ook die wedstryd waarmee Wessies hulle Plaat afdeling veldtog afskop.
“KHS gaan beslis een van die groot wedstryde wees, maar ek dink nie ons moeilikste een nie. Die twee skole van Middelburg is altyd sterk. Ek dink dié twee spanne gaan ons die meeste opdraende gee,” het Van der Sandt gesê.
Senior spelers soos Ulrich du Preez, Fafa Calitz en Franco Dumond gaan die bruin bere moet lei. Terwyl belowende o.17 spelers, soos Tiaan de Kock, Wian du Preez, Fanie Linde en Quewen Fourie impak kan maak.
Volg die skakel vir volledige bepalings en varste plaaslike rugby-nuus:
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/local-rugby-hub/



