Luiperds skok SWD om plek in halfeindstryd te beklink
Die Luiperds het 'n oorwinning van 19–26 oor die SWD in George behaal en verseker daarmee 'n plek in die halfeindstryd van die Curriebeker Eerste Afdeling. Waarnemende afrigter Riaan van Straten prys die span se vasberadenheid en spanwerk.
Die Luiperds het teen alle verwagtinge die SWD op 11 Julie in George met 19-26 geklop.
Die oorwinning het nou vir hulle ‘n plek in die halfeindstryd van die Curriebeker eerste afdeling verseker. Die Luiperds moes vyf punte uit die wedstryd kry en keer dat die SWD geen punte kry nie.
“Die groot ding vir ons was bereidwilligheid, ons was bereid om die bal bietjie lug te gee en aan te val. Dit het vir ons af gekom,” het Riaan van Straten, waarnemende hoofafrigter van die Luiperds verduidelik.
Van Straten het erkenning vir die Luiperds se voorspeler afrigter Freddy Ngoza gegee.
“Ons vaste fasette het goed gewerk, wat vir ons gevaarlike agterlyn kans gegee het om aan te val. Alhoewel ons teen halftyd gemaklik voor was, het ons geweet dat die Arende gaan terugkom. Dit is wanneer ‘n moeilike seisoen soos wat ons ervaar het, in jou guns tel. Ons moes baie duik en die manne het geduik vir die wen,” het Van Straten gesê.
Die Luiperds het nou ‘n afspraak met die voorloper in die kompetisie, die Valke. Dit gaan beslis nie ‘n maklike wedstryd wees nie, maar in ‘n halfeindstryd is enige iets moontlik.
“Ons sien uit om weer teen die Valke te speel. In die vorige wedstryd het ons bietjie teen hulle gegly so ons sien uit om dinge reg te stel. Niemand het ons ‘n kans gegee nie maar die manne het hard gewerk. Dit is goed om te sien dat die spelers die vrugte pluk van hulle harde werk. Die ouens verstaan die waarde van wat teen die SWD gebeur het. Ons het nog niks gewen nie, maar dit is nog ‘n tree in die regte rigting,” het van Straten afgesluit.



