SportSport

Voormalige Gimmies skitter by T20 Wêreldbeker in Indië en Sri-Lanka

Marco Jansen (Suid-Afrika) en Lourén Steenkamp (Namibië) speel tans in die T20 Krieketwêreldbeker. Beide Jansen (klas van 2018) en Steenkamp (klas van 2015) het hul naam op die Gimmie-Oval in Molenstraat gemaak.

Twee oud-Potch Gimmie-krieketspelers is tans besig om topvertonings by die 2026 T20 Krieketwêreldbeker in Indië en Sri Lanka te lewer.

Marco Jansen, die Proteas se veelsydige wedstrydwenner met bal en kolf, en Lourén Steenkamp, openingskolwer vir Namibië, was die afgelope naweek die toppresteerders vir hul spanne.

Jansen (Gimmies-matrikulant in 2018) is al ’n bekende naam in internasionale krieket wat al telkemale op internasionale vlak vir die Proteas geskitter het. Hy is nie verniet as Krieket Suid-Afrika se Speler van die Jaar in 2024 aangewys nie.

Marco Jansen vier ‘n paaltjie vir die Proteas. Foto: Facebook/Cricket South Africa.

In die afgelope poelwedstryd teen Nieu-Seeland het Jansen 4/40 met die bal behaal om sy span na ’n 7-paaltjie-oorwinning te neem. Sy vaardighede met die bal en verskillende aflewerings vanaf sy 2 meter-hoogte maak van hom ’n moeilike opponent. Sy veldwerk en skerp krieketbrein maak ook van hom ’n onmisbare speler vir die Proteas.

Steenkamp (Gimmies-matrikulant in 2015) het in die kleure van Namibië ’n puik 58 (39 balle) teen die VSA gemoker wat vyf viere en drie sesse ingesluit het. Vir baie Potchefstromers sal dit herinneringe terugbring van die kere wat hy as skool- en klubspeler ook balle na die grens toe gestuur het.

Lourén Steenkamp speel ‘n bal na die grens in sy beurt van 58. Foto: Facebook/Cricket Namibia

Hy het vir die NWU in Varsity-krieket geskitter nadat hy eers ná skool in Engeland gaan krieket speel het. Hy het ook vir die Noordwes Dragons en Limpopo Impalas op plaaslike vlak gespeel. Hy het in 2025 die geleentheid gekry om internasionale krieket vir Namibië te speel en ná ’n paar goeie vertonings is hy in Namibië se T20-Wêreldbekergroep ingesluit.

Steenkamp het as jong seun vir Laerskool Baillie Park krieket gespeel onder leiding van die alombekende Boet Hurn, wat hom destyds afgerig het.

Albei Jansen en Steenkamp was briljant vir Gimmies en het die eerste spanne na fantastiese oorwinnings geneem. Nou, jare later, brand die krieketvure steeds sterk waar hierdie twee spelers, al speel hulle vir verskillende lande, steeds ambassadeurs vir hul skool is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button