
Die Griekwas het ‘n sterk 15-tal vir die wedstryd teen die Luiperds aangekondig met die slot en kaptein, Albert Liebenberg, wat in sy 50ste wedstryd uitdraf. Die Griekwas sluit in talle top spelers soos die oud Volkie Gustav Erlank, die ervare George Whitehead op die bank en die drievraat, Cameron Hufke, op heelagter. Liam Koen, die seun van oud-Springbok, Louis Koen, sal in die nommer 10-trui nes sy pa, uitdraf.

Die Luiperds se hoofafrigter, Riaan van Straten, weet dat daar ‘n taai stryd voorlê, maar hy sien uit om die vrug van vyf maande se bloed en sweet op die veld te sien.
“Ons verwag ‘n verwoede aanslag van die Griekwas. Griekwas in Kimberley is nooit maklik nie. Hulle is die Curriebekerkampioene vir ‘n rede. Ons sal baie klinies moet wees. In ons derde opwarmingswedstryd teen die Griekwas in Vryburg het hulle ons hard gestraf wanneer ons foute gemaak het.”
Volgens Van Straten is hierdie seisoen een waarin die Luiperds gaan opstaan.
“Ons het baie hard gewerk om die leemtes uit te sorteer. Die ouens is baie opgewonde. Ek sien uit om die Luiperds spelers op die veld te sien en veral dié wat hulle debuut gaan maak. Dit gaan taai wees, maar daar is niks beter om so te begin nie.”
Luiperds se 2026 SA-Beker groep
Voorspelers: Stephan Taylor, Mncedisi Dlwengu, Armin Posthumus, Gcino Mdletshe, Divan Pieters, Ghudian van Reenen, Hennoh Visser, Godfrey Sebokolodi, Adri Kermis, Tatenda Chayayi, Alister O’Brien, Sphekahle Dube, Werner Geldenhuys, Munashe Mhere, Jason Alexander, Liyema Mgwigwi, Kraynu Kruger, en Babalo Makana. Agterspelers: Sakkie Smith, Daimon O’ Connell, Hlumelo Ndudula, Shaun Baxter, Jandré Burger, Bryan Breda, Jurie Wessels, Brandon Keevy, Zac Bester, Indiphile Tyeda, JP Britz, Naiden Jaarts, Sino Tshontyi, Hennie Otto, Noegh Hayward en Regan Izaks.







