Kreatiwiteit vloei dik in die Bosch-familie se bloedstroom
In die Bosch-kunsstudio voel 'n mens 'n sekere tipe sintuiglike passie aan. Op die mure, tafels en grond staan keramiekplate, geverfde portrette, vase, bakke en figuurtjies wat elkeen 'n ander gevoel wek en van jare se meesterskap getuig.
Om ‘n bestaan as ‘n kunstenaar te maak, is nie altyd maklik nie, maar baie bevredigend, veral as jy dit as ‘n familie in die verlede, hede en toekoms beoefen.
By Anton en Hanlie Bosch se Bosch-kunsstudio is kuns al ‘n tradisie – met ‘n merkwaardige familiegeskiedenis wat deur drie generasies vloei en met klei, verf en pen in kleurvolle en gedetailleerde gestaltes gevorm word.
Anton is die seun van die beroemde Esias Bosch, sonder twyfel Suid-Afrika se mees befaamde keramiekkunstenaar en pottebakker. Verder het Anton ook ‘n suster, Esra wat haar eie ateljee in Witrivier het.
Nou volg Anton en Hanlie se dogter, Nina dieselfde paadjie met haar pragtige porseleinjuwele wat sy in die einste kunsateljee ontwerp.
In die Bosch-kunsstudio voel ‘n mens ‘n sekere tipe sintuiglike passie aan. Op die mure, tafels en grond staan keramiekplate, geverfde portrette, vase, bakke en figuurtjies wat elkeen ‘n ander gevoel wek en van jare se meesterskap getuig.
“Die feit dat my pa ‘n pottebakker was, het grotendeels daartoe gelei dat ek kuns beoefen het. Ek was gedurig in kontak daarmee gewees. Ek het destyds juis Hoërskool Nelspruit toe gegaan omdat dit die enigste kunsskool in die omgewing was,” vertel Anton.
Anton en sy vrou het saam by die Pretoria Kunsskool studeer. Volgens Hanlie is dit ‘n voordeel dat hulle dieselfde beroep het.
“Ons kan mekaar baie help al is ons kunsvorme nie dieselfde nie, ons verstaan kuns.”
“Ek het met groot potte en vase by my pa begin leer. Naderhand toe ek my voete gevind het, kon ek my eie styl vind. Van Anton se kenmerkende werke is kaalfigure, simboliese bome en ander natuurfigure. Op die oomblik konsentreer ek baie op teëls. Ek dink wat gebeur is dat jy tegniese kennis opdoen en dit beïnvloed jou werk. Dit is ‘n uiters tegniese rigting,” meen Anton.
Dit het nie ‘n direkte aanwendingmetode soos ‘n skildery nie. Die kleure mag verskil nadat jy die keramiek in die oond gesit het. Dit maak dinge meer onvoorspelbaar. Wanneer die item in die oond is, kan enigiets verander en dit skep daardie verrassingselement.
“Die belangrikste is om ‘n storie deur my werk oor te dra. Mense moet hul eie betekenis daaraan kan koppel.” Ek het begin met juwele, my pa het my een vakansie die basiese tegnieke gewys,” vertel Nina.
Die stokperdjie het toe na ‘n beroep gelei waar sy tans haar passie met haar verskeidenheid porseleinjuweliersware uitleef.
Hanlie se passie lê by skilder en driedimensionele beeldhouwerk. Sy inkorporeer baie kleur in haar kuns wat figure, diere en gesigte uitbeeld.
“Daar is ‘n gedurige strewe na kreatiwiteit in kunsvorme en ‘n mens kom net daarby uit deur gedurig te werk en in die proses iets nuuts te skep,” verduidelik Hanlie.
Niemand kry soveel talent dat hulle net kan begin meesterstukke teken nie. Daar moet steeds geoefen en geskaaf word aan die tegnieke om talent te komplimenteer.
Volgens Anton is dit wel vreeslik moeilik om jou voete in die kunsberoep te vind, omdat jy nie ‘n vaste salaris kry nie.
Anton kry dus gereeld werk op kommissie met uitstallings wat ook gehou word. Dit is altyd ‘n treffer, met mense wat hulself aan die verskeidenheid kunswerke verkyk en vergaap.
Verskeidenheid is beslis iets wat hierdie gesin in oormaat het as ‘n mens al die kuns by die ateljee in ag neem – die ou keramiekwasbakke aan die muur is nog ‘n voorbeeld van die omvangryke werk wat van toeka tot nou deel van die Bosch naam is.
“As jy uit keramiekkuns ‘n bestaan wil maak, moet jy uniek wees. Daar is nou meer kunstenaars en beeldhouers as ooit vantevore. Die uitdaging is om bo die gemiddelde uit te styg,” meen Anton.
Volgens Hanlie is dit ‘n baie moeilike beroep om van ‘n bestaan te maak. Dit is omdat keramiekwerk baie harde arbeid vereis en die oorhoofse kostes soos elektrisiteit ook ingereken moet word.
“Met skilder het jy net werk en ‘n doek nodig, jou kostes is dan baie minder.”
Daar is ‘n groot nood vir kinders om kunsklasse te neem, sê Hanlie terwyl sy na Nina kyk.
In die toekoms sal hulle ook later wil klas gee en hul kennis uitbrei, maar vir nou is daar nie tyd nie en plek om klasse by hul ateljee aan te bied nie.
“Kuns is goed vir jou brein en laat jou ook ontspan en hou jou aan die gang,” sê Hanlie. “Enigiemand kan kuns doen. Dit is net ‘n kwessie van begin en met opleiding is daar soveel verskillende style deesdae wat ‘n mens kan volg.
Anton het self ook al beide plaaslik en internasionaal uitgestal by die Cape Gallery, De Oude Libertas in Stellenbosch en Kuns Uniek in Pretoria sowel as die Keramion Museum in Duitsland onder andere.
Hulle lees ook gedurig en is baie geïnteresseerd in die huidige tendense van die kunswêreld.
Verder reis hulle ook na plekke toe om inspirasie te kry.
“Ons was Mapungubwe toe en ons sal ook Mosambiek toe wil gaan om daar weer inspirasie vir nuwe werke te kry,” sê Anton.
“Die mense besef nie altyd ons is oop vir die publiek nie. Mense kan ons ateljee besoek en self ons kuns hier kom koop,” sê Hanlie.
Navrae: Anton by 083-456-3272 of anton@boschstudio.co.za
