Regters se ingryping is soms tot ‘n groter mate nodig as ander kere om duidelikheid te verkry wanneer onsamehangende getuienis verwarring kan veroorsaak. Hierdie ingryping kom nie op partydigheid neer nie.
Suid-Afrika se howe funksioneer soos volg: daar is ‘n regter wat onpartydig moet wees wat voor in die hof sit. Dit is sy/haar werk om aan die einde van ‘n verhoor ‘n beslissing te neem. Die staat se saak word verteenwoordig deur ‘n staatsaanklaer of -advokaat, terwyl ‘n prokureur of advokaat van die beskuldigde se keuse vir hom of haar optree.
Getuies kan geroep word om vir enige van die partye se sake te getuig. So ‘n getuie gaan deur drie rondes van ondervraging wat hoof-, kruis- en herondervraging genoem word. Wanneer die staat ter wille van sy saak ‘n getuie geroep het, sal die staatsaanklaer- of advokaat aan daardie getuie vrae stel in die hoofondervragingsessie. Die prokureur of advokaat vir die beskuldigde sal hom kruisondervra en die staatsaanklaer sal hom weer herondervra.
Hoewel die regter nie sommer die getuies of die beskuldigdes uitgebreid ondervra nie, is dit goed as hy of die landdros ingryp om vrae te vra wat moontlike onduidelikheid kan opklaar. Die landdros of regter moet die effektiewe loop van reg en geregtigheid beskerm en bevorder en die vra van sulke vrae kan soms daartoe bydra.
Regter mnr. Lotter Wepener het die ratte van reg en geregtigheid effektief aan die gang gehou, selfs nadat een van vyf beskuldigdes Donderdagmiddag uit die hof uit weggehardloop het. Dit was tydens ‘n moordverhoor wat die afgelope week in die rondgaande hof in Mbombela aangehoor is.
Mnre. Micheal Mamuepa (28), Hlanganani Philbert Gama (29), Bongani Cyprain Hlatshwayo (25), Johnny Terence Themba (29) and Sibusiso Charles Vilikazi (21) is aangekla van die moord op mnr. Lucky Mondlane op 22 Januarie 2013.
Die postmortemverslag sê dat hy met ‘n stomp voorwerp beseer is. Sy broer, mnr. Themba Mondlane, het getuig dat hy deur drie van die beskuldigdes met ‘n hokkiestok geslaan is. Sy skrotum is ook oopgeskeur en sy regtertestikel is verwyder.
Wat die verhoor vergemaklik het, was Wepener se ingryping sodra getuienis verwarrend en onsamehangend geword het. Die ondersoekbeampte in die saak, AO Fanie Robert Lubisi, is gevra wat die afstand tussen Matsulu A en Matsulu C, waar die voorval plaasgevind het, is. Toe dit vir hom moeilik was om ‘n verbale antwoord te skat, het Wepener hom die geleentheid gegee om by die hof se venster uit te kyk en ‘n baken te identifiseer, waarvolgens ‘n afstand geskat is.
Gama het kleigetrap toe hy Woensdag getuig het. Volgens hom het hy en Mamuepa die slagoffer met ‘n gordel geslaan en met ‘n ketting vasgemaak, maar hy het daarna onsamehangende getuienis gelewer deurdat sy stellings mekaar weerspreek het. Wepener het hom hieroor aangespreek deur terug te verwys na getuienis wat voorheen deur sy medebeskuldigde Mamuepa gelewer is. “Wat wil jy hê moet ek glo?” het hy gevra. Gama het aangedui dat sy weergawe met Mamuepa s’n strook.
Laasgenoemde het Donderdagmiddag groot opslae gemaak toe hy uit die hof uitgestorm het. ‘n Lasbrief is uitgereik vir sy arres en Wepener het voortgegaan met die saak.
