CrimeHard newsNewsNews

Hofsake sloer as gevolg van uitstaande DNS-verslae

Daar is net twee laboratoriums wat DNS-analises vir bewysregtelike doeleindes in strafregsake mag saamstel. Hulle is die SAPD Forensiese Staatslaboratoriums (FSL) in Pretoria en Kaapstad. Forensiese antropoloog dr. Douglas Ubelaker brei uit op hierdie probleem in sy nuwe internasionaal hoogs aangeskrewe boek.

MBOMBELA – Verslae van DNS-analise is onontbeerlike getuienis in talle strafsake. Verkragting- en dronkbestuursake word vir maande vertraag omdat oorlaaide staatslaboratoriums nie met die toenemende vraag na dié verslae kop bo water kan hou nie.

Die staatslaboratorium se agterstand in die prosessering van DNS-analises het weer op 19 Januarie in die Nelspruit Streekshof ter sprake gekom toe ‘n roof- en verkragtingsaak teen drie beskuldigdes uitgestel is.

Mnr. Kenneth Mazibuko (35), mnr. Paul Stolz (38) en mnr. Lucky Mbatha (29) word daarvan aangekla dat hulle op 22 November 2013
mnr. Freddy Mhlongo aangerand en van sy selfoon beroof het. Hulle word ook van verkragting op dieselfde dag aangekla.  Stolz het sy griewe teenoor die landdros, me. Venessa Joubert, tydens hul hofverskyning gelug. “Ek is moeg daarvoor om in die tronk te sit vir ‘n misdaad wat ek nie gepleeg het nie en ek is moeg daarvoor dat die saak keer op keer uitgestel word.”

Die saak teen hulle is tot 9 Februarie uitgestel sodat regsverteenwoordiging vir die beskuldigdes bevestig kan word. Die DNS-verslae van die misdaadtoneel is steeds nie deur die staatslaboratorium aan die hof verskaf nie, al is die beweerde misdrywe meer as ‘n jaar gelede gepleeg.

Laevelder het van ‘n betroubare bron verneem dat dronkbestuursake teen dieselfde pas sloer as gevolg van die laboratorium se trae voorsiening van verslae. “Ons ontvang nou eers uitslae wat al tussen September en Desember 2013 ingedien is vir analise om die alkoholkonsentrasie in beskuldigdes se bloed te bepaal.”

Joubert het tydens die drie beskuldigdes se hofverskyning verduidelik dat Mbombela se howe van die staatslaboratorium in Gauteng afhanklik is. “Hierdie staatslaboratorium ervaar ‘n opeenhoping van instruksies en gevolglike agterstand. Ons sal moet wag vir die laboratorium se verslag, mnr. Stolz,” het sy gesê.

Mbombela se howe is saam met al die ander regoor Suid-Afrika in hierdie frustrerende situasie vasgevang omdat daar net twee laboratoriums is wat DNS-analises vir bewysregtelike doeleindes in strafregsake mag saamstel. Hulle is die SAPD Forensiese Staatslaboratoriums (FSL) in Pretoria en Kaapstad.

Die krisis het die aandag van die internasionale forensiese antropoloog dr. Douglas Ubelaker, getrek. Sy navorsing is in sy boek The Global Practice of Forensic Science gepubliseer waarvan die nuutste uitgawe in Januarie vanjaar gedruk is. “Daar is 314 613 hofsake se DNS-analises geprosesseer deur die SAPD FSL in 2013,” skryf Ubelaker. “Suid-Afrika se hoë misdaadsyfer is alom-bekend,” skryf hy. “Dit volg logieserwys dat ‘n magdom hofsake na die FSL toe verwys sal word en dat hulle onder baie druk verkeer.” Hy maak melding daarvan dat daar talle privaatlaboratoriums regoor Suid-Afrika is met die fasiliteite om DNS-analises vir strafsake te verskaf. “Hierdie privaatlaboratoria se getuienis word nie in strafsake toegelaat soos dié van die SAPD FSL nie. Hul getuienis mag wel in siviele sake aangebied word.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button