MBOMBELA – ‘n Omroeper by Radio Laeveld word aangekla van poging tot moord op haar voormalige man en moet volgende maand weer in die hof op Middelburg verskyn.
Me. Annemarie Antz Mulder (48) werk sedert September verlede jaar by Radio Laeveld waar sy die ontbytprogram, Ontbyt Jolyt, behartig. Op Radio Laeveld se webtuiste, staan sy bekend as Antz van der Heever. Sy was ook etlike jare by Radio Kosmos werksaam.
Sy het na bewering op 2 Oktober 2013 haar man, mnr. Seef Mulder, tydens ‘n woordewisseling vier keer geskiet. Die plaaslike koerant op Middelburg, Middelburg Observer, het destyds berig dat Seef op die stoep van hul meenthuis gestaan het toe hy met ‘n .38-rewolwer in die rug geskiet is. Hy is twee weke lank in die intensiewe sorgeenheid van ‘n hospitaal behandel.
“Hy was nog besig om alles gereed te kry vir ‘n braai toe hy die eerste skoot hoor klap, waarop nog drie skote kort op mekaar gevolg het. Kort daarna het hy gehoor hoe die deure gesluit word en ‘n voertuig vertrek. Mnr. Mulder het aanvanlik vooroor geval, maar was bang hy sou verdrink in sy eie bloed en het op sy sy gedraai. Bure het hom later hoor kerm en die opsigter laat kom, waarna hy agter die bank op die stoep in ‘n plas bloed gevind is. Me. Mulder het haar in dié tyd aan die polisie gaan oorgee,” het die koerant berig.
Daar is voorts berig dat Annemarie, kort na haar eerste verskyning teenoor ‘n joernalis opgemerk het dat sy emosioneel en fisies mishandel is. Seef het later vir die betrokke joernalis gesê dat daar wel argumente was oor “haar jaloesie”. Die bewerings van fisiese mishandeling het hy ontken en gesê dat sy hom “met die vuis op die ken geslaan het en toe sy weer op my afstorm, het ek my arm uitgesteek om haar van my weg te hou. Dit is al wat gebeur het”. Die egpaar is etlike maande na die skietvoorval geskei.
Annemarie het reeds verskeie kere in die hof verskyn en die saak is op 7 Augustus verlede jaar op die hofrol geplaas vir verhoor. Landdros mnr. Hans Combring het egter toe die saak van die rol geskrap omdat die staat nie gereed was om met die verhoor voort te gaan nie.
Hy het nog opgemerk dat hy nie sal duld dat die staat die hof se tyd mors nie en dat Annemarie geregtig is op ‘n regverdige verhoor. Daar is egter intussen besluit om die saak te heropen en sy sou laat verlede jaar gedagvaar word om weer in die hof te verskyn. Sy is egter nie betyds gedagvaar nie en ‘n nuwe datum vir 9 Januarie vanjaar is vasgestel.
Sy het weereens nie betyds die dagvaardiging ontvang nie en die saak is herskeduleer vir 20 Februarie. Sy het teenoor Middelburg Observer opgemerk oor die hofsaak: “Dit is nie ‘n lekker vooruitsig nie, maar die regsproses moet sy gang gaan. Ek wil dit nou net agter die rug kry”.
• Laevelder het vrae na Radio Laeveld gestuur vir Annemarie om te beantwoord. Mnr. Roelf van Jaarsveld, nuusredakteur by die radiostasie, het by navraag gesê dat sy slegs tydelik by hulle werk. Hy kon die koerant nie van ‘n kontaknommer vir haar voorsien nie.
