CrimeHard newsNewsNews

Onderberg-ninjas was die afgelope week weer in die hof

Getuienis is aangebied oor die foto-uitkenningsparade waartydens die beskuldigdes uitgeken is.

MBOMBELA – Die saak teen vier sogenaamde “ninjas” is hierdie week in die Nelspruit Streekshof hervat. Getuienis is aangaande die foto-uitkenningsparade gelewer, waartydens die verdagtes glo deur ‘n getuie herken is.

Die vier mans wat glo in 2011 ‘n reeks misdade gepleeg het terwyl hulle met samoerai-swaarde gewapen was, het Woensdag weer in die hof verskyn.

Mnre. Moses Silinda (31), Pieto Gwambe (28), Sam Chauke (37) en Venas Gavane (28) staan plaaslik as die vier ninjas bekend en word van die onwettige betreding en die verlaat van die Republiek van Suid- Afrika, drie klagtes van roof met verswarende omstandighede, menseroof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla.

Die vier beskuldigdes is in November 2011 in Mosambiek gearresteer en op borg van R400 elk vrygelaat waarna hulle weer op 23 November 2011 in die Onderberg gearresteer is.

Die arrestasies is tydens ‘n gesamentlike operasie bewerkstellig waarby meer as 100 mense betrokke was – boere, privaatsekuriteitsmaatskappye en die polisie.

AO. Etienne Hitge was op daardie stadium in Komatipoort gestasioneer en het oor die foto-uitkenningsparade getuig wat op 17 November 2011 gehou is.  Op daardie stadium was die ninjas steeds in Mosambiek in aanhouding.  ‘n Getuie wat hulle uitgeken het, het dit deur middel van ‘n foto-uitkenningsparade gedoen omdat hulle nie beskikbaar vir uitkenning was nie.

Hitge het getuig dat die verdagtes se foto’s tussen soortgelyke foto’s geplaas is en voorgelê is. “Die getuie het mooi uitgewys. Hy was seker,” het Hitge getuig oor die dag toe die vyf beskuldigdes op foto’s uitgeken is.  Die ninjas sal op 10 en
11 Februarie weer in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding tot dan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button