CrimeNewsNews

Vermoedelik ontvoerde tieners gevind

Die inskrywings op Facebook dat die dogters se fone geantwoord is deur 'n Nigeriër was foutief en het 'n oproer in die kleine veroorsaak.

Donderdagmiddag het ‘n storie van twee vermiste tieners soos ‘n veldbrand versprei nadat dit op die Facebook-gemeenskapsblad Barbertonners Mpumalanga geplaas is.

Die inskrywing is deur ‘n inwoner, Melissa Marais gemaak en het as volg gelui: “Ons vra asb almal se samebidding!! Shani en Marizaan Oberholzer is vanmore Nelspruit toe vir werksonderhoude en is nou altwee vermis! Hulle is deur ‘n bussie opgelaai. Hul fone word deur ‘n Nigeriër geantwoord. Nadat hy met die polisie gedreig is het hy erken dat die meisies iewers in Lydenburg op ‘n plaas is. ASB ASB! Bid saam dat hulle gekry sal word voor hulle enige skade aangedoen word!!!!”
Ander Facebook-inskrywings gemaak deur Heidi Elliseou Ellison Stapel het gevra dat mense op die uitkyk moet wees vir die dogters en dat hulle vermoed die twee is ontvoer.

Volgens Sarita Fourie, die moeder van Shani van Rooyen, het die dogters omstreeks 05:00 vanmore opgestaan om vir ‘n werksonderhoud te gaan wat fotosessies iewers op ‘n plaas sou behels. Sy het bevestig dat hulle nie geweet het na watter plaas die kinders sou gaan nie, net dat ‘n bussie hulle in Mbombela sou optel en na hul bestemming sou vervoer. Die werk is blykbaar gereël deur ‘n vriendin wat voorheen hierdie tipe werk gedoen het en was volgens haar (die vriendin) heeltemal wettig.

Die ouers het begin onraad vermoed toe nie een van die twee hulle fone geantwoord het nie.

Susan Oberholzer, Marizaan se ma sê sy het na die nommer gebel wat die vriendin wat die reëlings getref het, vir haar gegee het. Sy vertel dat ‘n man geantwoord het en homself as NJ voorgestel het, genoem het dat hy van Nigerië is, dat die dag gekanselleer is en dat haar dogter nie daar is nie.

Die SAPD is in kennis gestel en ‘n soektog is van stapel gestuur. Volgens Fourie het die polisie haar dogter se selfoon gespoor na die plaas in Lydenburg en Marizaan s’n na iewers in Vereeniging.

Die ouers het Lydenburg toe gery en het hulle dogters ongedeerd aangetref waar hulle aan ‘n realiteitsprogram op die plaas Nora Falls tussen Sabie en Lydenburg gewerk het.

Sover Barberton Times kon vasstel sal Shani en Marizaan saam met hul ouers terugkeer. Die speurders belas met die saak sou hulle op pad terug in Mbombela ontmoet.

Die inskrywings op Facebook dat die dogters se fone deur ‘n Nigeriër geantwoord is was glo foutief en het ‘n oproer in die kleine veroorsaak. Barberton Times het met ‘n plaaslike lid van die polisie gepraat wat kennis dra van die saak en verkies om anoniem te bly.

Hy het die volgende oor die aangeleentheid te sê gehad:

“Hierdie tipe sake is vir ons bitter moeilik om te hanteer, want die kinders is afgelaai by Riverside Mall met die ouers se medewete dat hulle vir ‘n onderhoud en moontlike fotosessie gaan. Dit kan dus nie as ontvoering beskou word nie.
Ek weet nie hoe ‘n ouer dit kan toelaat, en veral met meisiekinders van daardie ouderdom nie. Met al die dinge in die nuus is enigiets moontlik. Mens wil nie spoke opjaag nie, maar lees net die koerante en kyk die nuus op televisie,” het hy gesê. “Facebook is ook ‘n groot probleem en die stories daar is onaanvaarbaar, want dit ruk alles uit verband.  Die SAPD het reeds hulle hande vol met ernstige misdaad. Maak seker jy as ouer is ingelig oor jou kind se bewegings en maak seker jy as gebruiker van ‘n blad soos Facebook ken die feite voordat jy inskrywings plaas.”

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button