Bekende inwoner in hof op verskeie klagtes
Mnr. André Laubscher het glo die klaer in 'n strafsaak teen hom sowel as die ondersoekbeampte geïntimideer.
BOMBELA – ‘n Ou bekende in rugbykringe, mnr. André Laubscher, is gisteroggend by ‘n gastehuis vasgetrek.
Hy het glo die klaer én ondersoekbeampte in ‘n diefstalsaak geïntimideer.
‘n Soektog na Lauscher is hierna geloods en mnr. Jacques Meiring, operasionele bestuurder van Bossie’s Community Justice (BCJ) en die plaaslike polisie het vroeg gisteroggend by die Bavaria Gastehuis op hom toegesak terwyl hy nog gelê en slaap het.
Laubscher is in 2011 twee keer van diefstal aangekla. Sers. Gerald Sedibe, provinsiale polisiewoordvoerder, het teenoor Laevelder bevestig dat beide voorvalle met die koop en verkoop van voertuie verband hou. “Die eerste aantyging teen Laubscher is dat hy iemand se voertuig namens hulle sou verkoop het. Hulle het nie die volle koopprys ontvang nie en dit blyk dat Laubscher toe die voertuig se onderdele stuk-stuk verkoop het.” Laubscher word in ‘n tweede klag daarvan beskuldig dat hy ‘n trekker, wat hy namens ‘n kliënt sou verkoop, in besit geneem het sonder dat die verkopers ooit die geld daarvoor ontvang het. Die sake teen Laubscher het op 7 November 2011 in die Noord- Gautengse Hooggeregshof gedraai en die regter, mnr. FG Preller, het beveel dat hierdie klagtes van nuuts af in die Nelspruit Streekshof aanhangig gemaak moet word.
“Laubscher het hierna glo die klaer én die ondersoekbeampte in die eerste saak teen hom geïntimideer,” sê Sedibe. “Klagtes van intimidasie is vandeesmaand aanhangig gemaak en twee lasbriewe is vir Laubscher se arrestasie uitgereik.” Die plaaslike polisie het ‘n soektog na Laubscher geloods. Meiring het Woensdagaand ‘n foto van hom op BCJ se Facebook-blad gelaai en dit is binne 24 uur 219 keer op lede van die gemeenskap se Facebook-blaaie gedeel.
Laubscher het Woensdagaand in die gastehuis oornag en is gisteroggend gearresteer nog voordat hy sy klere kon aantrek. Laevelder het die gastehuis geskakel om te bevestig of Laubscher daar herken is, maar die eienaar, mnr. Roger Higham, het aangedui dat hy nie kommentaar wou lewer nie.
Die gemeenskap se reaksie op Laubscher se inhegtenisname is oorweldigend. Tien Facebook-gebruikers het hulle tevredenheid met die arres uitgespreek. “Goeie werk, speurtak!” het mnr. Barrie Blom die SAPD gelukgewens. Laubscher staar nou ses klagtes in die gesig: twee van diefstal, twee van intimidasie en twee van crimen injuria. “Hy verskyn vandag in die hof waar al ses klagtes aan hom gestel sal word,” het Sedibe bevestig.
