MBOMBELA – Nog getuienis is hierdie week in die Nelspruit Streekshof gelewer in die staat se saak teen vier mans wat verskeie aanklagte in die gesig staar nadat hul beweerde wandade in 2011 tot hul arres gelei het. Die saak teen die sogenaamde Onderberg Ninjas duur Maandag voort.
Mnre. Moses Silinda (31), Pieto Gwambe (28), Sam Chauke (37) en Venas Gavane (28) word met verskeie rooftogte verbind en vervolgens van die onwettige betreding en die verlaat van die Republiek van Suid-Afrika, drie klagtes van roof met verswarende omstandighede, menseroof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla.
Die sogenaamde Ninjas is só deur die gemeenskap gebrandmerk nadat ‘n aantal geweldadige voorvalle die gemeenskap in 2011 geruk het.
Van die verdagtes het glo samoerai-swaarde gebuit en dit as wapens tydens rooftogte gebruik. In November 2011 is vyf mans in Ressano Garcia in Mosambiek aangekeer. Goedere wat in Suid-Afrika as gesteel aangemeld is, is daar in hul besit gevind.
Mnre. Nelson Gomes, Chauke, Gavane, Silinda en Sumbane Elvis Caleka is in terme van Mosambiekse wetgewing oor die vingers getik met ‘n boete gelykstaande aan R400 elk.
Van hierdie vyf het Silinda, Chauke en Gavane hierdie week in die Nelspruit Streekshof verskyn. Gomes en Caleka is steeds soek en daar word vermoed dat hulle in Mosambiek skuil.
Getuienis is hierdie week deur konst. Delphas Mlandzi gelei oor ‘n misdaadtoneel waarna hy kort na Silinda, Chauke en Gavane se terugkeer, op 23 November 2011 ontbied is.
“Ek het om 07:45 daardie oggend by die toneel aangekom waar die slagoffer glo beroof is. Ek het drie voetspore gesien en die spore met my snuffelhond gevolg in die rigting van Coopersdal. Daar het ek drie mans gesien. Hulle het in die bosse gestaan.
Ek het hulle in Shangaan, siSwati en Engels gevra om uit die bos na vore te kom, waarna hulle in verskillende rigtings gehardloop het.”
Mlandzi het twee waarskuwingskote in die grond geskiet.
Die saak is tot vandag uitgestel wanneer getuienis van die arrestasie van Gwambe, die vierde beskuldigde, ook verwag word.
