
BRONDAL – ‘n Man is in ‘n stabiele toestand nadat gewapende rowers hom vroeg vanoggend twee keer in sy huis geskiet het.
Mnr. Koos Kruger en sy vrou, me. Lee Kruger, het in die hoofslaapkamer geslaap toe ses mans op hulle huis toegesak het. Vier mans was in die huis en die ander twee het buite gestaan en waghou.
Shaun Terblanche, operasionele bestuurder van J&M Sekuriteit Nelspruit, sê die mans het eers by die kantoor, wat aan die huis grens, ingebreek. Hulle kon egter nie die huis van die kantoor af binnedring nie en het toe omgeloop en die diefwering van ‘n oop venster gesny en ingeklim.
Kruger het omstreeks 03:00 wakker geskrik en is deur vier mans in die slaapkamer begroet. Een verdagte het ‘n handwapen by hom gehad. Kruger en die verdagtes was in ‘n woordewisseling gewikkel toe die gewapende man glo op Kruger geskiet en hom in die bors en arm gewond het.
Me. Kruger het met dié slag platgeval en gemaak of sy ook geskiet is. “Die verdagtes het hulle arms opgetel en laat val om te sien of hulle werklik dood is. Toe hulle tevrede is, het hulle na die kluis begin soek,” vertel Terblanche.
“Terwyl die mans in ‘n ander kamer besig was, het me. Kruger opgestaan en haar man uit die kamer begin sleep. Een van die versagtes het na die kamer teruggekeer en haar betrap. Sy het uit die huis gehardloop en twee mans het haar gejaag en op die grasperk vasgetrek en geslaan.”
Volgens Terblanche is me. Kruger nie ernstig beseer nie.
Al ses verdagtes is toe in die huis in om vier van Kruger se wapens uit te dra. Hulle het ook ‘n onbekende bedrag geld gesteel. Die verdagtes het die elektriese heining geknip en só die plaas verlaat.
J&M Sekuriteit is na die toneel ontbied, waarna hulle vir Hi-Tech se mediese dienste, Mpumalanga se mediese nooddienste, Netcare 911 en die polisie ontbied het.
Mnr. Jacques Ainslie, van Hi-Tech Nelspruit se mediese dienste sê Kruger het baie bloed verloor en was in ‘n stadium kritiek. “Ons het hom na Mediclinic Nelspruit geneem waar hy nou in ‘n stabiele toestand is.”
Die verdagtes is steeds op vrye voet. Inwoners van dié gebied is gewaarsku om op die uitkyk te wees vir die ses verdagtes.
