CrimeHard newsLocal newsNewsNewsUpdate

Koos Kruger beswyk aan wonde

"Sy hart het ophou klop," het me. Yulindi Kruger, 'n familielid, aan Laevelder gesê. "Dit was net te veel trauma vir sy liggaam om te hanteer."

BRONDAL – Mnr. Koos Kruger, die boer van Brondal wat Saterdagoggend in sy huis geskiet is, is vanoggend om 07:15 in Mediclinic Nelspruit oorlede.

“Sy hart het ophou klop,” het me. Yulindi Kruger, ‘n familielid, aan Laevelder gesê. “Dit was net te veel trauma vir sy liggaam om te hanteer.”

Kruger (47) is Saterdagoggend om 03:00 deur gewapende rowers in sy slaapkamer geskiet. Hy is in sy arm en sy gewond. Volgens me. Kruger het die een koeël sy linkerlong, hart en kolon getref.

Hy is later die dag geopereer, maar sy toestand was steeds kritiek en hy moes met behulp van masjiene asem haal. Volgens me. Kruger het sy niere Sondag ingegee en moes hy dialise ondergaan. Dokters het ook septisemie in groot dele van sy liggaam opgemerk en hom daarvoor behandel.

Sy vrou, me. Lee Kruger (39) was ook in die huis ten tye van die aanval. Toe die rowers haar man skiet, het sy platgeval en gemaak of sy ook geskiet is. Volgens mnr. Shaun Terblanché, operasionele bestuurder van J&M Sekuriteit in Nelspruit, het die rowers selfs hulle arms opgetel en laat val om te sien of hullle werklik dood is. Daarna het die verdagtes die huis omgekeer op soek na die kluis. Me. Kruger het toe opgespring en uitgehardloop, maar een van die verdagtes het teruggekeer na die kamer en haar betrap.

“Hulle het haar gejaag en op die gras buite die huis platgeduik en ‘n bietjie geslaan,” het Terblanché gesê. “Sy was darem nie ernstig beseer nie.”

Die verdagtes is weg met vier van Kruger se vuurwapens en ‘n onbekende bedrag geld. Hulle het deur ‘n gat in die elektriese heining weggekom.

J&M Sekuriteit, Hi-Tech se mediese dienste, Mpumalanga Nooddienste en Netcare 911 is na die toneel ontbied. Mnr. Jacques Ainslie van Hi-Tech se mediese dienste het gesê Kruger was reeds in ‘n kritieke toestand toe hulle by hom kom. Hulle het met hom na Mediclininc Nelspruit gejaag waar hy dadelik behandel is. Sy toestand het van Saterdag af net versleg en sy hart het uiteindelik gaan staan.

Daar is nog geen begrafnisreëlings getref nie. “Die familie wil graag vir almal vir hul ondersteuning bedank,” het me. Kruger gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button