Hoofseun volg in sy pa se spore
"'n Leier hoef nie noodwendig altyd die opdragte uit te deel en leiding te gee nie, maar moet weet wanneer om dinge self te doen en wanneer om ons rol agter die skerms te vervul."
MBOMBELA – Toe Francois Esselen jr. se ouers die dag sy naam gekies het, het hulle min geweet dat hy meer as net ‘n naamgenoot van sy pa sou wees.
Maar nou, 17 jaar later, blyk dit ‘n uitgemaakte saak te wees dat dié appel beslis nie ver vanaf die boom val nie. Net soos sy pa, Francois sr. sowat 30 jaar gelede as hoofseun vir Hoërskool Nelspruit (NHS) verkies is, is Francois jr. onlangs ook aangewys om dié taak te verrig – en erken hy het hy groot skoene om te vul.
Francois sr. het in 1986 by NHS gematrikuleer en verskeie tradisies wat vandag steeds staan tot stand gebring. Francois jr. sê hy hoop egter om dit te laat voortleef, maar terselfdertyd ook nuwe spore te trap.
“Dit is vir my ‘n groot eer om in my pa se voetspore te volg en ek is seker dit sal harde werk en toewyding verg om ‘n sukses daarvan te maak,” vertel hy en voeg by dat die vermoë om hard te werk gelukkig deel van die Esselens se bestaan is.
“Ek en my pa is nogal baie dieselfde en as ons ons kop op ‘n ding sit dan doen ons dit, want mens moet altyd onthou, ‘you can’t climb the ladder of success with your hands in your pockets’.” Sy pa beaam met ‘n knik en sê beskeie dat hy en sy vrou, Zelda, beslis trots op hul seun is.
Francois jr. reken egter dat nederigheid ‘n kerneienskap in die lewe is. En vir ‘n jongman wat reeds 11 keer provinsiale kleure verwerf het en ook in gr. 7 by Laerskool Malalane hoofseun was, het hy dié kernwaarde bemeester, want sy voete is plat op die grond.
“‘n Leier hoef nie noodwendig altyd die opdragte uit te deel en leiding te gee nie, maar moet weet wanneer om dinge self te doen en wanneer om ons rol agter die skerms te vervul.”
Francois sê hy sal egter wil sien dat respek van so vroeg af as gr. 8 aangeleer word en sê hy hoop om juis in daardie afdeling ‘n verskil te maak voordat hy die Laeveld vir die Jakarandastad verruil.
Hy beoog om ná skool ingenieurs-wese aan Tuks te studeer. Indien die beseringsduiwel hom nie pootjie nie hoop hy ook om sy rugbystewels nie te ver weg te bêre nie, maar erken dan dat sy hart maar einlik op die plaas in Malalane lê waar sy pa boer.

