Community galleriesCompetitionsEditor's choiceEntertainmentGalleriesLifestyleLocal newsMunicipalNewsNewsPeople

Penge nie meer die sprokie wat dit eens was

Penge is vandag net die skaduwee van die dorpie wat dit in die negentigerjare was toe die asbesmyn sy deure gesluit het

PENGE – Tannie Myra Elvers (80), een van net drie oorblywende blanke inwoners van Penge, ‘n myndorpie van weleer, is doodgelukkig net daar waar sy al vir jare woon. Van trek wil sy niks weet nie.

Penge is vandag net die skaduwee van die dorpie wat dit in die negentigerjare was toe die asbesmyn sy deure gesluit het. Tannie Myra bly steeds in die huis waarin sy en haar oorlede man 27 jaar gelede ingetrek het.

“Ek moet elke jaar kyk hoe Penge agteruitgaan. Dis net ek, my skoonseun wat agter my bly en ‘n ou man wat omtrent twee strate verder woon. Ons het elkeen ons eie huis, maar die omstandighede is steeds moeilik. Hier is net twee petrolpompe in werking vir motoriste wat ‘n dringende petrolstop moet maak, ‘n klein restaurant wat ook ‘n paar kruideniersware in voorraad hou en ‘n poskantoor, maar selde is daar goeie diens beskikbaar,” vertel sy.

Hoewel Penge twee boorgate het, is van die toerusting gesteel en het hulle geen konstante watertoevoer nie. “Ons het net elke tweede dag water en ook net uit die buitekrane, geen water is vir binnenshuise gebruik beskikbaar nie. Ek maak maar gereeld my emmers vol water wat ek onder die afdak stoor. Hierdie watertekort duur nou al ‘n paar jaar. Ek het ‘n groot tuin en moet self elke plant natmaak. Dit neem my omtrent twee dae.”

Sy kla ook oor die toestand van die paaie en vertel dat motors skaars daarop kan ry as gevolg van die yslike diep slaggate. Sy het voorheen winkel toe gestap om haar nodige kruideniersware te koop, maar doen dit nie meer nie weens die gevaarlike toestande wat nou in Penge heers. Daar is slegs ‘n satellietpolisiekantoor, maar sy beweer dat daar selde beamptes aan diens is.

Tannie Myra kon by haar dogter in Polokwane gaan woon het, maar verkies haar onafhanklikheid. Haar huis en tuin is haar trots en die twee honde wat sy aanhou, beskou sy as haar kinders. “Ek glo nie die mense wat in die leë huise ingetrek het die dag toe die myn gesluit het, betaal eers huur nie. Ek kommunikeer maar min met die mense wat rondom my bly en reis elke Vrydag met ‘n taxi Burgersfort toe om my kruideniersware te koop.”

“Dit was werklik ‘n pragdorpie op sy eie. Ek onthou nog die groen grasperke langs die strate. Die inwoners het destyds hul huise en tuine so goed versorg. Daar was verskeie winkels insluitend ‘n slaghuis wat altyd heerlike boerewors gehad het. Vars brood was altyd by die bakkery beskikbaar en jy kon soet, ryp perskes by die groentewinkel koop. Die kruidenierswinkel was eers ‘n oor-die-toonbankdiens, maar het later Frazers geword,” vertel Tannie Myra.

Die dorp het selfs ‘n Standard Bank gehad en die ou poskantoor bestaan nou nog, maar die standaarde het baie verswak. Sy kan selfs gebeure onthou soos die kind wat in die oop waterkanaal geval en verdrink het. Die lykie is later by die pompstasie gevind; ook die vloed wat een van die brûe gebreek het en Dan Pienaar wat selfdood by die enigste dubbelverdiepinghuis in Penge gepleeg het.

“Ons kinders het langs die Olifantsrivier gespeel wat deur die dorp geloop het. Mense het altyd gesê dat daar krokodille in is, maar in 27 jaar het ek nog nooit een daar gevind nie. Ek glo dit was maar bangmaakstories om die kinders uit die rivier te hou. Die pragdorpie het selfs ‘n sentrale gehad, beter bekend as “nommer asseblief”. Verskeie bussies het op en af in die strate beweeg soos die inkopie-, koshuis-, Sondagskool- en oumensbussies. Ons het die mooiste gholfbaan gehad en ons klubhuis was die sosiale sentrum van die dorp. Daar was ‘n groot swembad, tennisbane en saans was daar ‘n rolprentvertoning gehou. Ek kan selfs nog onthou hoe ons op die groen grasvlaktes langs die klubhuis gesit het terwyl die kinders geswem het,” voeg sy by.

Penge Hospitaal was ook ten volle toegerus. Tannie Myra vertel hulle het selfs destyds ernstige gevalle in die hospitaal behandel. Nou staan die hospitaal dolleeg en verwaarloos. Slegs ‘n gedeelte daarvan is in ‘n kliniek omskep.

Die laerskool staan ook dolleeg en verniel. “Die dorp het in 1992 begin agteruitgaan nadat die asbesmyn sy deure gesluit het. Die myn het in 1914 ontstaan en Penge onderhou, maar nadat dit gesluit het, het alles verander. Inwoners het weggetrek om ander werk te soek en besighede het toegemaak. Die huise wat eens van die bestes was, is almal verwaarloos. Geboue soos die klubhuis is verniel en tot op die grond afgebreek.”

Maar ten spyte van al die probleme sê Tannie Myra sy voel deel van Penge en sal solank sy kan, daar wil woon.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button