Kerk se minimark beloof groot pret vir die hele gesin
Ps. André Hanekom vertel dat hierdie prettige geleentheid 'n fondsinsameling vir die gemeente is, waar die kerk se uitgawes gedek sal word en Sondagskool-klaskamers vir die kleingoed gebou gaan word.
LYDENBURG – Die Volle Evangelie Kerk se minimark wat op 27 April plaasvind sal sorg vir pret vir die hele familie, selfs die vierpotiges. Ps. André Hanekom vertel dat hierdie prettige geleentheid ‘n fondsinsameling vir die gemeente is, waar die kerk se uitgawes gedek sal word en Sondagskool-klaskamers vir die kleingoed gebou gaan word.
Vollies se minimark sal ‘n propvol dag vir besoekers inhou met verskeie stalletjies wat kos, handgemaakte en tuisgebakte produkte, sowel as plante en groente gaan verkoop.
Daar sal ook speletjies en ander lekker aktiwiteite beskikbaar wees. Die minimark-program by die kerk begin reeds om 08:00, waarby ‘n heerlike boere-ontbyt gehou sal word. Kaartjies vir die ontbyt kan tot 26 April by die kerkkantoor gekoop word.
‘n Slang-demonstrasie begin om 09:00 en sal die res van die dag voortduur. Om 09:30 bied Netcare 911 ook ‘n demonstrasie aan en teen 10:00 tree Nicole Breytenbach, ‘n plaaslike kunstenaar op, maar die pret stop nie daar nie.
Om 11:00 begin die mode-parade en babakompetisie en om 11:30 begin die oulikste troeteldier kompetisie. Om 12:00 vind die prysuitdeling plaas met wonderlike pryse wat gewen kan word. Deelnemers staan ‘n kans om kaartjies vir ‘n Rooibok-jagnaweek vir die hele gesin te wen sowel as ‘n Karoo-skaap.
Heerlike kosbestellings kan reeds geplaas word vir 26 April by die Vollies-gemeente. Bestellings sluit in boereworsrolle, hamburgers, ‘n kwart-hoender en rol. Die bestellings kan afgelewer word op 26 April, maar die publiek is meer as welkom om self die kos by die kerk te kom koop. Let wel dat alle bestellings en verkope teen 18:00 op 26 April sluit.
Kaartjies en kompetisie-inskrywings sal by die mini-mark beskikbaar wees, maar vir besprekings, bestellings en inligting kan Hanekom geskakel word by 084-688-5007.


