Klein Antoiné sal binnekort weer ‘n gewone kinderlewe kan hê
Antoiné Dingle (3) se ma Melanie het kort na 13:00 laat weet dat sy in teater is. Die operasie sou na verwagting tot twee ure duur.

MBOMBELA – Antoiné Dingle sal na verwagting vandag haar langverwagte diafragmapasaangeër ontvang.
Die driejarige is gister saam met haar ma, Melanie na die Wilgers Hospitaal in Pretoria toe sodat hulle toetse kan doen voor sy vandag is om die operasie te kry.
Die diafragmapasaangeër sal Antoiné in staat stel om nie meer van die trachi wat sy al etlike maande het, afhanklik te wees nie, en ‘n normale kinderlewe te kan lei. Antoiné het sentrale apnee-hipopneesindroom.
LEES MEER: Woelwater benodig hulp om vrylik asem te kan haal
Die trachi was noodsaaklik om haar te help asem haal, maar het haar leefstyl baie verander en ingeperk.
Dit alles gaan nou verander. Finansieel en emosioneel was dit ‘n lang pad, maar die gemeenskap het hande gevat om die Dingles te help om die nodige fondse in te samel. Die diafragmapasaangeër het verlede week uit die VSA in die land aangekom.
SIEN OOK: One mother’s ‘private hell’ brings hope to another
‘n Groep vriendinne het Saterdag met ‘n damestee in die botaniese tuin nog fondse ingesamel. Alles op die dag is geborg, sodat al die geld aan Antoiné geskenk kan word. Buiten heerlike kos en wyn het ‘n modeparade, dansvertonings en optredes deur die talentvolle sangers André Martinez en Jason Lee gesorg vir ‘n spesiale dag.
“Hierdie gaan oor ‘n klein dogtertjie wat net wil asemhaal,” het Francina du Plessis, seremoniemeester en redakteur van Mom’s Notes, gesê. “Dit is wonderlik om te sien hoeveel mense nog bereid is om mense te help wat hulle nie ken nie.”
Die geleentheid was Angelique Cooper en Chanté Schwartz se idee. “Vandag is nie ‘n funksie nie, dit is deel van die hele reis.”
Martinez, wat self kanker gehad het en nou in remissie is, het van sy eie liedere gesing, onder andere “Soar” oor uitstyg bo jou uitdagings. Hy het opgemerk dat Antoiné, hoewel sy baie siek is, nie ly nie, “Sy het soveel vreugde.”
Melanie het gesê haar jongste se nuwe lewe begin oor minder as ‘n maand: na die operasie sal hulle op 26 September die diafragmapasaangeër aanskakel en die trachi uithaal.
“Ek is nou ‘n bietjie bang. Dit is ‘n groter operasie as wat ek gedink het. Maar ons kom huis toe sonder ‘n trachi.”
Hulle mediese fonds sal ‘n deel van die operasie dra, maar hulle het nog verskeie ander kostes om te dek.
Melanie het die wonderlike mense wat oor hulle pad gekom het, bedank. “Nou gaan my kind kan doen wat ‘n driejarige moet doen.”














