Editor's choiceHard newsNewsNewsBreaking News

Man per helikopter gevlieg na massiewe hartaanval

Dokters en mediese personeel het onverpoos voortgegaan met behandeling.

LYDENBURG – ‘n Man is per helikopter gevlieg vanaf die mediese sentrum in Viljoenstraat na hy vroeër vandag ineengestort het by sy werk by die Gustav Klingbiel Natuurreservaat.

Daar is intussen bevestig dat die man John Roos is, wat ‘n welbekende inwoner van die dorp is.  Roos het na wat verneem word sy kollega JP Cilliers geskakel en hom vertel dat hy nie baie goed voel nie. Cilliers het Deon Broekman van Rapid Response geskakel. “Ek het net vermoed iets is nie pluis nie en het dadelik Andre Denysschen van Netcare 911 geskakel,” het Broekman verduidelik.

Beide Broekman en Denysschen was binne oomblikke op die toneel. Daar is dit bevestig dat Roos ‘n massiewe hartaanval gehad het. Denysschen het dadelik noodhulp toegepas en was genoodsaak om Roos te behandel met ‘n hartskok (defibrillasie). Hy is daarna dadelik gehaas na die mediese sentrum in die dorp.

“Daar was geen kardioloog in Nelspruit beskikbaar nie en ons het dus die helikopter van Johannesburg se Wilge Hospitaal laat invlieg.”

Roos is in ‘n kritieke toestand by die mediese sentrum behandel tot die helikopter die dorp bereik het. Dokters en mediese personeel het onverpoos voortgegaan met behandeling.

Intussen het Broekman en sy span die gedeelte van Viljoenstraat afgebaken waar die helikopter reg voor die sentrum sou kom land. Dit het die ER24 helikopter 45 minute geneem om van Johannesburg na Lydenburg te vlieg.

Roos is in Wilge hospitaal deur ‘n kardioloog ingewag en na gelang van sy toestand sal die nodige mediese stappe geneem word vir behandeling.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button