Joubert en Seuns-boer: Ma wil op dakke dans ná wonderwerk
Francois, die mede-eienaar van dié familieplaas, Kobus, se seun, is op Saterdag, 7 November, ernstig in 'n motorongeluk beseer.
MBOMBELA – “Die feit dat hy by ons op die plaas is maak dat ek op die dakke wil dans tot ons ‘n aardbewing veroorsaak.”
Só sê Mariëtte, ma van welbekende Laevelder en boer by Joubert en Seuns, Francois Joubert Jnr., wat verlede maand byna haar seun in ‘n motorongeluk verloor het.
Francois, die mede-eienaar van dié familieplaas, Kobus, se seun, is op Saterdag, 7 November, ernstig in ‘n motorongeluk beseer. Die ongeluk het omstreeks 22:00 op die R539 (Schoemanskloof-pad) gebeur. Kringtelevisiebeeldmateriaal het getoon dat ‘n tweede voertuig betrokke was, maar dat die bestuurder van die voertuig weggery het sonder om hulp te verleen. Die bestuurder is intussen aangekeer en die familie wag vir ‘n hofdatum.
Lees ook: Joubert en Seuns-boer herstel goed na ernstige ongeluk
Volgens Netcare 911 se woordvoerder, Shawn Herbst, moes die brandweer Francois met meganiese kake uit sy bakkie se wrak sny. Hy is per helikopter met ernstige kop- en borsbeserings eers na Mediclinic Nelspruit, en toe na Netcare Milpark vervoer. Met die eerste oogopslag van die wrak, is dit bykans ondenkbaar dat hy oorleef het. Beide sy longe het plat geval, ribbes is gebreek, twee rugwerwels het kompressiefrakture opgedoen, sy kakebeen het gebreek en sy skedel het gekraak.
Die familie het ongeveer ‘n uur na die ongeluk vir die eerste keer van die ongeluk gehoor. Die nagwag by Joubert en Seuns se pakhuis het die ongeluk gesien, maar kon die familie aanvanklik nie in die hande kry nie, en het Rob Ferreira Hospitaal gebel.
“Toe ons van die ongeluk hoor is ons inderhaas na die toneel. Nooddienste, TRAC en die brandweer was reeds daar. Ek het met Francois gepraat, maar hy het net gekreun. Hy was toe steeds in die wrak vasgekeer, met die dak van die bakkie sentimeters bokant sy kop. Die enigste manier hoe paramedici by kom kon uitkom, was deur ‘n klein gaping in die agterruit, en só is hy gestabiliseer,” het Mariëtte gesê. Hy is ná ‘n lang en deeglike prosedure uit die wrak verwyder en Joubert en Seuns-boeris aanvanklik na Nelspruit Mediclinic vervoer waar hy gestabiliseer en intubeer is. Hy is later na Milpark oorgeplaas.
“Daar was ‘n stadium kort na 02:00 die Sondag wat ek instinktief dringender gebid het vir hulp en kort hierna het een van die paramedici ons meegedeel dat hul hom amper verloor het. Na goedkeuring van die mediese fonds, het ‘n ambulanshelikopter van HALO 4 hom van Mbombela na die Milpark Trauma-eenheid vervoer. Sy dokter, dr. Jennings, het gesê dat Francois haar aanvanklik behoorlik laat spook het. Hy was in trauma-intensief van 8 to 18 November waarna hy na die trauma-hoësorgeenheid verskuif is. Slegs twee weke na die ongeluk, op 22 November, is hy weer verskuif na ‘n algemene saal. Buiten vir ‘n swaminfeksie, wat binneaars behandel is, was geen verder behandeling nodig nie,” vertel sy en voeg by Francois tans by die huis aansterk. “Hy kla hoofsaaklik van seer ribbes, maar het verder geen probleme nie. Hy is verlede week ontslaan en sal waarskynlik weer in Januarie begin werk.”
“Ons eerste en grootste dank is aan God. Vir al die honderde oproepe en boodskappe wat ons letterlik van regoor die wêreld ontvang het, kan ons net dankie sê – dit is hierdie gebede wat ons as gesin gedra het deur hierdie moeilike tyd. Ons wil ook elkeen van die reddingspanne wat daardie aand gehelp het, bedank. Ons kon net magteloos toekyk, julle is ons helde.”
