Die Laeveld-gemeenskap gee terug aan gesondheidswerkers
Mediese versorgingspersoneel regoor die Laeveld word bedank vir hul harde werk en toewyding met omgee-en-bederfpakkies van die gemeenskap. #YouAreSpecial

Gesondheidswerkers in Mbombela en Witrivier ontvang hierdie pakkies as ‘n gebaar van dankbaarheid vir die versorging wat hulle aan pasiënte in hospitale se Covid-19-sale bied.
Die verskeidenheid inisiatiewe wat vir hierdie doel ontstaan het, volg in dié groot projek, Adopt a Frontline Worker (#YouAreSpecial), se voetspore.

Adopt a Frontline Worker is deur Linda Venter begin nadat sy van die #adoptanurse-projek gelees het wat deur dr. Amelia Brink van Mediclinic Vergelegen begin is.
Omgee-en-bederfpakkies word hoofsaaklik by die werkers van Busamed uitgedeel nadat dit ingesamel word.
Die pakkies bestaan uit bottels water of energiekoeldrank, sjokolade of energiestafies, jellielekkers, voet- of handeroom en ‘n bemoedigende boodskap.

Hierdie inisiatief het baie instansies van die gemeenskap betrek, onder andere Konica Minolta, Crossing SUPERSPAR, Sandveld Beskuit en ‘n verskeidenheid kerke.
Die NG Kerk Witrivier het ook in samewerking met die insameling vir die Versorg ‘n Versorger-projek, ‘n uitreik begin wat 75kg tuisgebakte koekies insamel om aan werkers uit te deel. Julia (18) en Michaela Wolff (16) het by die kerk se uitreik betrokke geraak om koekies te bak en pakkies te verpak vir hierdie projek.

LEES OOK: Laerskool Witrivier groet sy skoolhoof van 18 jaar
Hulle het altesaam 21 omgeepakkies verpak en het van die koekies daarvoor gebak. Julia sê die pakkies “bemoedig hulle (die gesondheidswerkers) verder om ons helde te wees al is die toestande sleg. Ek dink hulle is baie braaf, en dat die klein pakkies wat ons gemaak het hulle verder sal aanmoedig om sulke goeie werk te doen.”
Livewell Dieticians in Mbombela het ook hulle eie inisiatief begin deur elke dag aan gesondheidswerkers kospakkies uit te deel.
LEES OOK: Afrigter haal herinneringe oor ontslape atleetvriend op
Die inisiatief spoor besighede aan om deel te word deur ‘n dag se etes ter waarde van R3 250 te borg. Hierdie kospakkies word daagliks by Mediclinic se gesondheidswerkers afgelaai.

LEES OOK: Dié knapie verskyn eersdaags op die kassie
“Die verpleegsters waardeer dit so baie. Dit help hulle ook met iets kleins om dankie te sê. Sommige moet na ‘n lang dag nog by huis kom en kosmaak en na gesinne omsien,” sê Jurie Grobler van Du Toit-Smuts en Vennote wat as borg vir die projek opgetree het.
