Local newsNewsNews

Houtvoertuigies gaan vir ‘n goeie doel

'n Afgetrede inwoner van Witrevier het tydens die pandemie vir 'n goeie doel 'n versameling van voertuie uit hout ontwerp.

‘n Noukeurig geboude ossewa, ‘n klassieke Jeep met fyn detail en ‘n alledaagse minibustaxi vorm alles deel van die versameling voertuie wat ‘n inwoner deur die pandemie van hout gemaak het.

Pieter Briel (81) van die Rustig Aftree- en Versorgingsoord op dié dorp vertel dat hy dié karretjies bou nie net om die tyd te verdryf nie, maar ook vir ‘n goeie doel.

“Voordat Covid-19 uitgebreek het, het ek en my seun begin om vliegtuie uit hout te bou, wat ons dan by ‘n vliegveld op Rocky Drift laat vlieg het. Hulle het egter elke keer gebreek,” het Briel gesê.

Pieter Briel en een van die motors wat hy gebou het.<br /> > Foto’s: Andrea van Wyk

Tydens die pandemie het hy eendag die idee gekry om karre uit hout te bou. Die ontwerpe het hy self uitgewerk en soms het hy na prente gekyk vir inspirasie.

“Ek teken dan die ontwerp op ‘n stuk papier met die afmetings van die kar en die fynere besonderhede daarop. Ek teken selfs presies hoe die modderskerms moet lyk en so meer. Buiten die karre staan my huis vol meubels, soos lampskerms en horlosies, wat ek ook al self gemaak het.”

Briel gebruik hout van palette om die motors te bou. Hy kies die mooiste planke van ‘n palet en neem dit dan om afgeskaaf te word totdat dit 13 mm dik is. Die sagtheid van die hout beteken dat dit maklik is om lewe te gee aan dié verskeidenheid motors.

LEES OOK: Kinders baat by liefdadigheidsfunksie

Hy het die stoep van sy woning omskep in ‘n plek waar hy die motors maak. Een van dié karre vat sowat ‘n maand om te maak.

“Die ossewa was omtrent ‘n storie om te bou, omdat die voorste wiele kleiner moet wees as die agterstes.”

Briel vertel dat hy meer as 50 jaar lank op verskillende kerkrade gedien het en dat hy steeds by die plaaslike NG Gemeente nou betrokke is.

“Die kerk het in die pandemie al so baie goeie werk in die gemeenskap gedoen om uit te reik na behoeftige mense. Dit is ‘n moeilike tyd en fondse om te help is beperk. Daarom het ek besluit om die karre aan die kerk te skenk, sodat hulle dit kan gebruik om fondse in te samel.”

Hy het gesê hy bou die motors graag as ‘n tydverdryf en oorweeg dit nie tans om bestellings te neem nie.

Briel het in 2007 vanuit Meyerton in die Vaaldriehoek na Sabie getrek. Hy woon die afgelope sewe jaar in die aftreeoord. “Ek onthou eendag in 1970 het ons in die teekamer van ons werk gesit en praat oor ons aftrede. Sonder dat ek gedink het, het ek gesê ek sou eendag Witrivier toe trek, en ek het destyds nie eens geweet waar dit is nie! Toe ek en my vrou destyds Sabie toe getrek het, sien ek Witrivier is net om die draai, en hier sit ek nou.”

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button