Hard news

Bateleur-inwoner in Kaapstad doodgesteek

Karin van Aardt en haar man was op pad na Vredenburg vir hulle kleinkind se agtste verjaardag.

’n Kuier om haar enigste kleinkind se agtste verjaardag te vier, is op 5 Desember wreed kortgeknip toe Karin van Aardt (64) en haar man, Herman, in hul huurmotor op die N2 aangeval is.

LEES OOK: Wimpie Strydom se vreugdevolle nalatenskap gevier

Karin se swaer, Uli Trümpelmann, het die voorval aan Laevelder bevestig.

“Karin en haar man het gistermiddag om 15:40 vanaf Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe vertrek en om 17:45 laat weet dat hulle veilig in Kaapstad geland het,” het hy gesê.

Ná hul landing het die egpaar ’n motor gehuur en op die N2 na die N7 op pad Vredenburg toe gery. By ’n rooi verkeerslig is hulle egter deur ’n groep mans bestorm.

“Hulle het Karin se ruit aan die passasierskant uitgeslaan en haar handsak probeer gryp,” het Trümpelmann verduidelik. In die poging om die handsak te steel, het een van die mans Karin verskeie kere in die bors gesteek.

Herman het onmiddellik probeer wegjaag en ’n ander motoris om aanwysings na die naaste hospitaal gevra. Karin is om 19:00 by Netcare N1 City-hospitaal opgeneem, maar het later aan haar beserings beswyk.

“Sy het reeds baie bloed verloor en het ’n diep steekwond onder haar borsbeen gehad,” het Trümpelmann gesê.

Volgens hom het die polisie intussen die huurmotor vir verdere ondersoek in beslag geneem. Geen verdagtes is nog in hegtenis nie.

LEES OOK: Laeveld-legende, Wimpie Strydom, sterf

Trümpelmann het Karin as ’n liefdevolle, omgee-mens beskryf wat baie lief was vir die wildtuin. Karin en Herman het sedert 2018 in Bateleur gewoon nadat hulle van Bloemfontein af verhuis het om nader aan die wildtuin te wees.

Sy laat haar suster, Rentia, haar swaer en twee seuns, Reon en Ruan, agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button