Nog ‘n verdagte in plaasmoord vas
'n Sewende beskuldigde in die plaasmoord van Deon de Bruyn is verlede Maandag in KaBokweni naby Witrivier in hegtenis geneem.
KOMATIPOORT – Skaars ‘n week nadat die sesde verdagte in die De Bruyn-plaasmoord vasgetrek is, het polisie ‘n sewende ook agter tralies gesit.
Fanie Mkhabela (31) het Maandag vlugtig in die Komatipoort Landdroshof verskyn en Andy Hendry Manonga (32) was verlede Maandag in die beskuldigde bank.
Deon de Bruyn, ‘n 25-jarige boer, is op 17 Junie in sy huis op die plaas Simonsvlei in Strydomblok deur inbrekers doodgeskiet. Sy werkgewer, Estelle Jansen (59) het verskeie skietwonde oorleef.
LEES: Family and friends mourn Deon de Bruyn’s death in farm attack
Vyf verdagtes is ‘n paar dae na die moord in die Tonga-omgewing aangekeer en die polisie is die laaste paar maande op die spoor van die ander drie wat ook vermoedelik deel van die aanval was.
Rawun Mhlanga (28), Derrick Makamo (24), Sifiso Madonsela (33), Oscar Chauke (36) en Solomon Msimango (33) het al verskeie kere in die hof verskyn. Hulle borgtogaansoek is op 13 Julie laat vaar.
Familie, vriende en ondersteuners het Vrydag vir die ses beskuldiges se verskyning by die hof vergader.
Die saak is uitgestel na 28 September aangesien die hof nog nie die formele aanklagtes van die hooggeregshof ontvang het nie. Die beskuldigdes bly steeds agter tralies.
Susan, Deon se ma, sê die familie is vasbeslote om die saak tot die einde te volg en seker te maak die skuldiges word gestraf. Sy vra dat die gemeenskap op 28 September hulle kom ondersteun om te wys dat die gemeenskap nie misdaad in die omgewing duld nie.
LEES: Five accused to appear in court on Friday for Strydomblok farm attack
Deon se pa, Deon sr. en broer Dirk, is verlede naweek saam met TJ Maré van 911 Riders na die Witkruis Monument, tussen Polokwane en Mokopane om vir Deon ‘n kruis te gaan plant.

Die Witkruis Monument bestaan uit honderde wit kruise, elk met die naam van ‘n slagoffer van plaasmoorde daarop, en het in 2003 ontstaan. Tydens die naweek van 1 September was daar ‘n massabyeenkoms by die monument van die 911 Riders ter ondersteuning van die opgradering van die monument en ‘n Groot Trek-fees.
LEES: Bikers travel close to 2 000 km to thank police across the province
