Motorfietse brul teen plaasmoorde en geweld
Motorfietse het Sondag deur die omliggende dorpe gery, en by elke punt gestop en gebid vir die speifieke dorp, alles teen geweld en moord.

STEELPOORT – Die stilte van ‘n Sondagoggend is verlede week verbreek toe lede van die 911 Riders hul motorfietse laat brul het om die gemeenskap se bewustheid van geweld en plaasmoorde in die land te verskerp.

Hierdie was nie sommer net ‘n klein byeenkoms in ons omliggende dorpies nie, dit was ‘n landswye inisiatief waartydens motorfietsryers gewys het dat hulle die huidige stand van die land ernstig opneem en gereed is om daarvoor op hulle knieë te gaan.

Motorfietsryers het in Burgersfort bymekaar gekom en vandaar na Steelpoort se AGS Kerk vertrek waar ‘n diens deur ‘n medemotorfietsentoesias en jare lange biker, pastoor Jackie van Dyk van Secunda waargeneem is.

Die groep is daarna terug Burgersfort toe waar hulle ‘n gebedsessie by die Tubatse Crossing-winkelsentrum gehou het om die dorp op hul knieë aan God op te dra en vir ‘n meer vreedsame samelewing te pleit.

Die volgende stop was Ohrigstad waar die boere hulle op trekkers en perde ingewag het. Saam het hulle opgeruk tot by die Oasis-sentrum waar hulle ook dié dorp in gebed aan die Here opgedra het.

Danie Grobler, streekspresident vir die Polokwane, Middelburg en Lowveld Immortal Guardian Chapters-klub vertel hulle kom bymekaar om vir die boere en in die algemeen vir die land te bid, maar veral vir die boere wat so wreedaardig vermoor word.
“Ons wil hiermee wys dat ons as motorfietsgemeenskap die saak teen geweld en misdaad ondersteun.”

