Beskuldigdes in De Bruyn-saak staan tereg op elf aanklagtes
Moord, roof met verswarende omstandighede en besit van 'n ongelisensieerde is onder die aanklagtes wat die sewe beskuldigdes in die plaasaanval op Deon de Bruyn en Estelle Jansen.
KOMATIPOORT – Die sewe beskuldigdes in die moord op plaaslike boer Deon de Bruyn moet op 11 Januarie in die Barbertonse Rondgaande Hooggeregshof verskyn.
Derrick Makamo (24), Rawun Mhlanga (28), Fanie Mkhabela (31), Andy Hendry Manonga (32), Sifiso Madonsela (33), Solomon Msimango (33) en Oscar Chauke (36) staan tereg op 11 aanklagtes, het die De Bruyn-familie en ander ondersteuners Vrydag in die Komatipoort Landdroshof gehoor.
Dit sluit in sameswering om ‘n rooftog te pleeg, roof met verswarende omstandighede, die rig van ‘n vuurwapen, besit van ‘n ongelisensieerde wapen en ammunisie, moord en poging tot moord.
Die sewe mans word daarvan beskuldig dat hulle die 25-jarige De Bruyn in sy huis op die plaas Simonsvlei in Strydomblok op 17 Junie gedurende ‘n rooftog koelbloedig doodgeskiet en sy werkgewer, Estelle Jansen (59) verskeie kere gewond het.
LEES: Family and friends mourn Deon de Bruyn’s death in farm attack
Vyf van die mans is enkele dae na die moord in die omgewing van Tonga vasgetrek en die laaste twee is ‘n week na mekaar vroeg in September in hegtenis geneem.
Sedertdien is hulle almal in aanhouding. Die eerste vyf is borgtog geweier en Vrydag het die ander twee aangedui dat hulle graag vir borgtog wil aansoek doen.
Die verdagtes is meegedeel dat hulle vir dekades agter tralies sal bly indien hulle skuldig bevind word, aangesien die aanklagtes elk ‘n minimum tronkstraf van tussen vyf en 25 jaar dra.
Die De Bruyn-familie vra dat gemeenskapslede hulle in die nuwe jaar by die hof sal kom ondersteun om te verseker dat geregtigheid geskied.
LEES: Nog helpende hande nodig om begraafplaas op te knap
