Local newsNews

Bergvlam-leerder sterf in motorongeluk

Carel Robberts, 'n matriekleerder aan die Hoërskool Bergvlam, is Dinsdagaand in 'n motorfietsongeluk oorlede. Die skoolhoof, Deon Visser, deel 'n paar woorde namens die skool..

Robberts was op pad huis toe van ‘n vriend af toe hy omstreeks 21:20 op die hoek van Dr Enos Mabuza- en Amaryllisstraat teen ‘n Toyota Fortuner gebots het.

Hy is op die toneel dood verklaar. Die insittendes van die Fortuner het slegs ligte beserings opgedoen.

Deon Visser, skoolhoof by Bergvlam, het van die skool se kant af hulle simpatie aan Robberts se familie oorgedra. Hy haal Prediker 3:1 aan: “ALLES het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd”.

“Wanneer dit tyd word om te groet, kan ons dit doen met die wete dat die Here in beheer is en dat Sy tydsberekening volmaak is.

“Soms is dit moeiliker om totsiens te sê as ander kere. Om iemand vir wie jy lief is te verloor, is seker die seerste seer. Ons kan onsself egter troos met die wete dat omdat ons een in Christus is, geen afskeid finaal is nie.

ALSO READ: Liefdadigheid én leed by Barberton DBV

“Die hartseer is egter ‘n werklikheid en slegs die Heilige Gees, die Trooster, kan ons in sulke tye krag gee en deurdra. Daar word dikwels gesê dat wanneer soldate oorlog toe gaan, is dit die wat agterbly wat die meeste verlang.

“Dieselfde kan gesê word met die afsterwe van Carel. Sy familie en vriende is in hartseer en rou gedompel. Carel Robberts was ‘n merkwaardige leerder.

“In sy stil manier van doen het hy sy menswees boekdele gespreek.

“Ons Vlammie-familie sal sy nagedagtenis in ons harte en gedagtes koester. Ons weet dat baie se lewens deur jou aangeraak is.”

Die familie was teen druktyd nog nie gereed om met Laevelder te praat nie. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button