Local newsNews

Dr. Ferreira du Plessis was soveel meer as net ‘n veearts

Du Plessis is op 26 November oorlede. Oor een ding stem almal saam: hy het ’n passie gehad vir baie dinge, maar die Here was altyd nommer een. Sy familie en kollegas deel hul herinneringe.

Du Plessis, ‘n bekende veearts, het op 26 November sy stryd teen blaaskanker verloor ná hy verlede jaar in Junie gediagnoseer is. In Oktober verlede jaar is sy blaas verwyder en in Januarie vanjaar het alles goed gelyk.

In Julie het die kanker egter weer aggressief versprei na die res van sy ingewande. Hy is in Nelspruit Mediclinic oorlede. Sy oudste broer, Theunis du Plessis, vertel van sy droë sin vir humor, selfs in die hospitaal.

“Nou die dag in die hospitaal terwyl ek hom in die rolstoel uit die onkologiesaal stoot, groet Ferreira die mense asof hy hulle ken. Ek vra hom toe ‘nou maar ken jy die mense?’ toe sê hy net nee, hy groet maar altyd almal hier in onkologie in solidariteit.” 

LEES OOK: Bergvlam-leerder sterf in motorongeluk

“Ferreira het ook altyd die vreemdste goed in sy yskas gehad – tot afgryse van Ma en genot van die kleinkinders – van hiënakoppe to buffelbloedmonsters.”

Sy liefde vir die wêreld en alles wat daarmee saamgaan is duidelik wanneer sy vriende en kollegas oor hom praat. Theunis sê Ferreira was nou wel ’n veearts, maar dit was net ’n klein deel van sy lewe.

“Hy was byvoorbeeld baie lief vir bome en het van kleins af boomname geken en geleer. Dan was hy baie lief vir geskiedenis – wêreldgeskiedenis én Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hy het altyd ’n veldslag of ’n monument of ’n ding gaan opsoek.

“Hy was lief vir diere, maar hy was eintlik nog liewer vir mense en nóg liewer vir God.

“Hy vertel my so ruk terug waar hy in Manyeleti ’n luiperd wat in ‘n strik getrap het met ‘n pyl moes skiet om hom aan die slaap te maak sodat hy die strik kon verwyder.

LEES OOK: Care Buddies sorg vir heerlike Kersfees-bederf

“Die luiperd was in ’n boom toe hy en die persoon wat saam met hom was op hom afkom. Na hulle die dier met die pyl geskiet het, het die dier in ’n spruit in verdwyn. Met die situasie te gevaarlik om agterna te gaan, vra die persoon toe vir Ferreira wat hulle nou moet doen.

“Toe sê hy ‘ons gaan bid’. Hy bid toe hardop dat die Here die luiperd sal laat uitkom en drie minute later kom die luiperd uit en kom lê letterlik langs die bakkie en raak aan die slaap.”

Sy kollegas by die Mpumalanga toerismeowerheid (MPTA), Ertjies Röhm, Gait-Jan Sterk en Chris Hobkirk, sê hy het van Manyeleti gepraat as “my eiland”. Hy het sonder om te skroom daarheen gegaan om die diere te help.

Oor nog ’n ding stem hulle saam: Du Plessis kon baie verstrooid wees. “Hy kon op die onmoontlikste tye die onmoontlikste goed doen,” sê Röhm. 

Volgens Hobkirk “sou hy sit, en dan sou sy kop een ding doen en sy hande iets anders. En as jy weer sien is die selfoonlaaier in jou kar in vyf stukke, want hy het hom uitmekaar gehaal”.

LEES OOK: Liefdadigheid én leed by Barberton DBV

Sy lys van passies in orde van belangrikheid was “die Here, sendingwerk en katte (spesifiek leeus)”.

Hy het so ver as Malawi, Mosambiek, Swaziland, en selfs Japan en Turkye gegaan om sendingwerkers te ondersteun en mense van die Here te vertel.

Behalwe vir sy Manyeleti-eiland, het hy ook ’n groot rol gespeel by die Care for Wild Rhino Sanctuary. Stigter Petronel Nieuwoudt praat met die hoogste lof van hom.

LEES OOK: Blink toekoms wink vir dié plaaslike kunstenaar

“Sy vriendelike glimlag was sy logo, sy deernisvolle persoonlikheid sy besigheidskaartjie en die manier hoe hy ander laat voel het, sy handelsmerk.

“Hy het ’n belangrike rol gespeel in elke stap van Care for Wild en die renosters se reise.” Sy het geglo hulle kan dinge regkry omdat hý dit geglo het.

“Hierdie goedhartige man het as ’n engel aarde toe gekom om soveel pyn te genees en nou het hy weer weggevlieg.”

Theunis sê die grondslag vir sy broer se sterk geloof is vir seker te danke aan hulle ouers, Leon en Mavia, wat baie lief is vir die Here. Leon en Mavia woon op ’n plaas in die omgewing waar hulle van 1980 af boer.

LEES OOK: Mustangs beplan groot dinge vir Desember

Ferreira laat sy ouers, sy broer en twee jonger susters, Selme-Louise en Anomien, na.

Anomien vertel van sy liefde vir dans en musiek. “Hy het geweet hoe om die lewe te geniet en hy was ons familie se ensiklopedie. Ek het altyd gedink hy sal ’n goeie geskiedenis-professor kon wees.

“Hy laat ’n groot leemte in ons gesin.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button