Beginselvaste Carel was sy gesin se rots en trots
Matriekleerder, Carel Johannes Robberts, was sy ma se "gentle giant", sy pa se trots en - meer as net 'n boetie - sy sussie se beste vriend. Sy gedenkdiens is vroeër hierdie week gehou.

Carel, ‘n matriekleerder aan die Hoërskool Bergvlam, is op 1 Desember in ‘n motorfietsongeluk oorlede. Hy is veras en sy gedenkdiens is Dinsdag by die NG Westergloed Gemeente gehou.
Die goue draad deur almal se herinneringe van Carel is sy vaste beginsels in alles wat hy gedoen het.

LEES OOK: Dr. Ferreira du Plessis was soveel meer as net ‘n veearts

In die brief aan haar boetie skryf sy sussie Fanisia: “Alhoewel jy my jonger boetie was, was jy my grootste rolmodel en ek het jou menswees bewonder. Ek het bewonder hoe jy altyd so positief was en hoe jy altyd die goeie kant van mense kon uitbring.”
Pa Fanie se brief eggo wat Fanisia gesê het. “Jy was ‘n voorbeeld vir almal, alhoewel jy ‘n pa gehad het wat nie so voorbeeldig gelewe het nie. Jy was my seun wat my verstaan het en my nooit veroordeel het nie.
“Jy het darem een ding van jou pa geërf: jou humorsin. Ons het almal altyd lekker gelag.”
LEES OOK: Care Buddies sorg vir heerlike Kersfees-bederf
Carel se teenwoordigheid in sy ma, Aletta, se lewe was so verfrissend soos die eerste lentereën die dag van sy geboorte in September 2002.

“Niemand ken of verstaan my soos jy nie. Jy gee die lekkerste drukkies. Jou mooi glimlag en sagte bruin oë… Jy met ‘n hart van goud. Jy het so baie mense se lewens aangeraak sonder dat jy dit besef het.”

Die gedenkdiens is gelei deur ds. Eliska Muller met skriflesing uit 1 Petrus 1 verse 13 tot 20, waarvan vers 13 lees: “Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.”
LEES OOK: Liefdadigheid én leed by Barberton DBV

Ds. Muller het genoem dat dieselfde teks ook verlede jaar tydens Carel se belydenisaflegging gebruik is. Sy het Carel as voorbeeld gebruik en gesê dat almal, soos hy, moet kan sê hulle het die Here geken.
Hy het op ‘n geleentheid al vir haar gesê dat omdat hy die Here ken hy nie bang is om dood te gaan nie.
Brian Rossouw, Fanisia se kêrel, het die familie ook geweldig ondersteun in hierdie tyd, waarvoor hulle hom in besonder bedank het.
LEES OOK: Blink toekoms wink vir dié plaaslike kunstenaar
Ook Fanisia sal sy humorsin onthou: “Ek weet jy sit op Liewe Jesus se skoot en vertel vir hom al jou “lame” grappies wat jy altyd self uitgedink het.”









