Local newsNews

Kunstenaars bring hedendaagse Kersverhaal op die planke

Die Kersfees Reisiger, met Natascha C, Anne-Mari White en Henry-John Williams, is 'n nuwe produksie onder die vaandel van Die Konsert Huiz, wat deesdae bekendstaan as Die Konsert Kamer. Die produksie is op 1, 2 en 3 Desember in Mbombela aangebied.

Die stuk, met teks en musiek deur Williams, handel oor die reis wat die drie wyse manne onderneem het, die helder ster en Francois wat op OR Tambo staan om ‘n pelgrimstog aan te pak, nes sy oupa. Willie Strauss was die verteller.

Francois se oupa het geglo dat die wyse manne nie herders of veewagters was nie, maar eerder sterrekundiges. Hy het vir Francois ‘n teleskoop gekoop vir sy 12de verjaarsdag en kort daarna op sy eie tipe pelgrimsreis vertrek. 

Die gehoor vind nooit uit waarna hy gesoek het nie en moes maar self daaroor besluit. Francois het hom nooit weer gesien nie, maar vinnig besef dat ‘n mens nie op ‘n “reis” hoef te gaan om jouself te vind nie.

Liedjies soos “Gebed” van Koos du Plessis, “Pelgrimsgebed” van Amanda Strydom en “Mary’s Boy Child” van Boney M kon in die produksie gehoor word.

LEES OOK: Luilekker Sondag by The Blue Gate

Natascha C vertel die verhaal van die drie kamele, drie wyse manne en die helder ster wat ons gereeld op Kerskaartjies sien. White vertel weer die heden-daagse feite en bewerings oor die astroloë wat sterre gevolg het. Williams brei uit oor die lewe van Francois.

Al drie hierdie gesoute verhoogkunstenaars sing in die produksie en Williams is soos oudergewoonte agter die klavier.

LEES OOK: Soektog na die Laeveld se buffel van ’n baard

Hulle het só uitgesien na Innibos 2020 in Desember, maar toe dit gekanselleer word het hulle besluit om self konsert te hou. “Ons verlang net te veel na die verhoog en om op te tree,” het Natascha C gesê.   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button