Laerskool Witrivier groet sy skoolhoof van 18 jaar
Laerskool Witrivier se hoof van die afgelope 18 jaar het onlangs afgetree.

Hy was amper 42 jaar by die skool betrokke. Frannie van der Riet se onderwys-loopbaan het in Januarie 1979 by Laerskool Witrivier begin.
Sy eerste vakke was Zoeloe en wiskunde, maar in 1983 het hy oorgeskuif na natuurwetenskap, wetenskap en biologie. Hy is bevorder tot departementshoof in 1984, tot adjunkhoof in 1992 en toe uiteindelik na hoof in 2002.
Hy het ook 12 jaar in die koshuis gewoon en onder andere as senior huisvader opgetree. In 1985 het hy die eerste akademiese toekenning van die Oos-Transvaalse Onderwysdepartement ontvang. Alhoewel hy in Graaff-Reinet gebore is, is Van der Riet ‘n Laevelder in murg en been. Hy het grootgeword op ‘n plaas op Strydomblok naby Komatipoort. Sy ouers het hom op vyfjarige ouderdom ingeskryf by Laerskool Komatipoort om getalle vir die busroete skool toe te regverdig.
As gevolg van sy jong ouderdom moes hy graad een herhaal. Van der Riet het in 1973 aan Hoërskool Rob Ferreira gematriku-leer, sy diensplig in 1974 in Suidwes-Afrika gedoen en het sy studies te Normaal Kollege Pretoria in 1975 begin. Van sy gunstelingherinneringe sluit in die keer toe die Oos-Transvaalse Onderwysdepartement hom gevra het om onderwysers op te lei in kontinu-evaluering, die voorloper van uitkomsgebaseerde onderwys wat skole vandag volg.
LEES OOK: Afrigter haal herinneringe oor ontslape atleetvriend op
Ook onthou hy die lekker skool- en personeelkonserte, die ontmoeting met prinses Charlene van Monaco wat by die skool se swem betrokke geraak het, en die baie goeie verhoudinge wat hy met die leerders gehad het oor die jare. Hy is ook dankbaar vir die talle sportprestasies waarby spelers en atlete wat hy afgerig het betrokke was, soos Carlien van Staden wat in 2000 die wereldrekord op daardie staduim in die 1 500m-dogters o/13 op die Pan Pacific Jeugspele in Sydney in die finaal gebreek het en die goue medalje gewen het.
LEES OOK: Dié knapie verskyn eersdaags op die kassie
Haar 1 200m-rekord vir dogters o/12 op die jaarlikse interlaer staan reeds vir 21 jaar. Nog herinneringe sluit in die talle Mpumalanga Skolelandloop-kampioenskappe wat hy as organiseerder by Hoërskool Rob Ferreira aangebied het, asook die sewe SA Skolelandloop-kampioenskappe wat ook op Rob se velde aangebied is en een by die Mbombela-stadion. Van der Riet sal graag ouers wil aanspoor om plaaslik te ondersteun as dit kom by skole. “As die skole en die kerke vou, dan vou die dorp,” sluit hy af.
