Local newsNews

Die dood van geliefde Alex Craven laat ‘n reuseleemte

Dit was met skok en ongeloof dat Mbombela verlede Dinsdagmiddag gehoor het dat 'n geliefde kliniese sielkundige, Alex Craven (54), aan Covid19 oorlede is. Huldeblyke het van oral ingestroom en vertroosting aan sy vrou, Ananda, en hul 13-jarige dogter, Kiara, gebied.

Die sagte rusbank waarin ’n mens so diep weggesak het in Alex se spreekkamer was vir menige pasiënt ’n veilige hawe. Tussen dié vier mure kon hulle hul diepste hartseer en probleme blootlê terwyl hy met ’n vertroostende oor geluister het.

As jy soet woordjies en ingewikkelde mediese terme verwag het, was Alex nie die regte keuse vir jou nie. Hy was onkonvensioneel en het reguit vrae gevra en reguit antwoorde verwag. En sy raad was sonder oordeel, maar ferm.

Dit het sy pasiënte laat voel of hulle saam met ’n goeie, wyse vriend kuier en ná sy dood is sosiale-media platforms oorval met huldeblyke aan dié sagmoedige reus wat soveel mense gehelp het om weer hul weg te vind.

By die huis was Alex net so rustig soos wat hy op sy gemakstoel in die spreekkamer was. Kiara was haar pa se trots en as jy na sy Facebook-profiel kyk, is daar vele foto’s wat haar liefde vir sport en haar passie vir perdry uitbeeld. Ananda was sy sielsgenoot en kollega. As ’n spesialis op die gebied van opvoedkundige sielkunde, het sy saam met Alex ’n kragtige span gevorm.

Maar die lewe het ook al sy rugkant vir die Cravens gewys. Hul seuntjie, Xander, is in Junie 2004 op vierjarige ouderdom aan ’n hartkwaal oorlede.

“Xander se dood was vir Alex baie moeilik om te verwerk, maar sy liefde vir kinders het in dié tyd verdiep. Met Kiara se koms het Alex vir al haar maats soos ’n tweede pa geword. Ons huis was altyd vol kinders en almal se kinders het deel geword van ons familie.” Alex het vir hulle omgegee en het hulle graag laat lag, poetse gebak en langs die sportveld ondersteun.

“Alex het op 11 Januarie siek geword en hy was eers tuis in isolasie. Sy toestand het binne ses dae dramaties verander en op 18 Janaurie is hy by Mediclinic Nelspruit opgeneem. In ongevalle het ons nog gepraat en hy het sy bril vir my gegee. Dit was die laaste keer dat ons van aangesig tot aangesig ’n gesprek gehad het,” vertel Ananda.

Hy het later dieselde dag ’n WhatsApp-boodskap gestuur dat hy op suurstof-behandeling was. “Sy toestand het vinnig versleg en hy is in die hoësorgeenheid opgeneem en toe na die intensiewesorgeenheid verskuif waar hy op ’n ventilator en ECMO-behandeling (sien blokkie hieronder) geplaas is. Hy was ook in ’n geïnduseerde koma.”

’n Tweede terugslag het hom getref toe hy nierversaking opgedoen het en dialise moes ontvang. Nadat hy ’n bakteriële longinfeksie opgedoen het, het die dokters Ananda op die ergste begin voorberei. “Ek is dankbaar vir die eerlikheid van hul gesprekke en dat ek presies geweet het wat besig was om te gebeur. Die mediese span by Mediclinic Nelspruit was ongelooflik.”

Op Sondag 24 Januarie is Ananda ingelig dat hulle Alex nog vir ’n ruk op ECMO sou hou en dan ’n besluit sou maak. Maandag is die behandeling gestaak. “Ek wou weet wat nou sou gebeur en die dokters het verduidelik dat sy organe sal ingee.”

Dinsdag het Ananda langs sy bed gestaan, sy koue hande vasgehou en hom gegroet. Sy het geweet dit sou die laaste keer wees dat sy hom sou sien. Kort nadat EMCO-behandeling gestaak is, is Alex sonder verdere lyding oorlede.

LEES OOK: Die Laeveld-gemeenskap gee terug aan gesondheidswerkers

Reeds vroeg in die pandemie het Alex en Ananda saam besluit dat indien een van hulle weens Covid sou sterf, daar geen gedenkdiens gehou moet word nie. “Ons was dit eens dat ons niemand aan die risiko van ’n byeenkoms wou blootstel nie en dat ons eerder op ’n intieme manier met elke vriend en familielid stories oor mekaar sou uitruil.”

In ‘n pragtige boodskap skryf sy jongste suster, Reneé Hennig: “Alex het dit verpes om totsiens te sê. Jy kuier nog dan sê hy ‘kom, Ananda, ons ry….’ Dit voel my hy het dit weer gedoen dié keer. Rus in vrede, Alex.”

Sy oudste suster, Susan, skryf: “Op Vrydag, 30 September 1966, het Alexander Jacob Craven ons lewens betree en dit was nooit weer dieselfde nie. Lank en maer. En omdat Alex en Mamma so haastig was, het hy sy neus in die proses gebreek!”

Die dood is finaal, maar beide vind troos in sy wonderlike nalatenskap: “Dit maak dit soveel makliker om te weet dat hy ’n verskil gemaak het.”

LEES OOK: Laeveldse pionier sterf maand voor 100ste verjaardag

Wat is ECMO

Extracorporeal membrane oxygenation (ECMO) is wanneer bloed deur ’n hartlongmasjien gepomp word wat die koolsuurgas verwyder en dan suurstofryke bloed na die liggaam se selle en liggaamweefsel neem. Dit word in kritiese-sorg situasies gebruik wanneer die hart en longe hulp nodig het om te kan herstel.

Sy goeie vriend, dr. Pieter Steyn, het op Facebook geskryf:

Wat is daar om te sê? My vriend is vandag dood na ’n harde geveg met Covid. Alex Craven. Die finaliteit daarvan is vir my so oorweldigend en die gevoel van verlies ondraaglik. As ek moet vertel hoe my en jou se vriendskap was, sal ek baie lank kan praat. Jy was altyd my grootste bewonderaar, al het jy so baie van my geweet. Geen pretensie, geen maskers, net Alex. Dankie vir baie herinneringe en lieflike tye saam. Hier op aarde is dit skielik baie leeg sonder jou. Jou maat verlang al klaar.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button