Local newsNews

Hugo was altyd daar en het altyd geglimlag

Lt.kol. Hugo van Rooyen laat ’n leemte, nie net in sy geliefdes se lewens nie, maar ook in die range van die Suid-Afrikaanse Polisiedienste, na sy afsterwe verlede week.

Lt.kol. Hugo van Rooyen is vroeg verlede Dinsdagoggend in sy huis in Witrivier aan ’n hartaanval oorlede. Hy laat sy seun, Marno, twee broers, Christo en André, sy suster, Lynette Myburgh, en sy verloofde, Emily Schoeman, na.

Hugo saam met sy seun Marno.

Soos ’n mens van enige beroepspolisieman verwag, is daar staaltjie op staaltjie te vertel uit sy 38 jaar diens.

Kapt. Pieter Smit, die eenheidsbestuurder vir die blitspatrolllie in Witrivier, is een kollega en vriend wat nie ’n tekort aan stories het om te deel oor sy en Hugo se jare saam nie.

LEES OOK: Barmhartige samaritaan snel fietsryer te hulp na besering in ongeluk

Hy onthou laggend hoe hy gedurig vir Hugo moes rondry omdat hy nie sy eie polisievoertuig gehad het nie.

“Dit was altyd baie snaaks hoe hy sy bene moes optrek om voor in die maroen Ford Bantam-bakkie in te pas. Dit was ‘n banksitplek en ek is heelwat korter as hy.”

Smit vertel hoe hy en Hugo een aand by ’n lodge in Secunda inbrekers voorgelê het. Hulle was geensins voorberei vir die koue wat op hulle gewag het nie.

“Ons het in ’n veld naby die lodge gelê en bibber. Hulle was besig om ’n supertube daar naby te bou en die pype het daar rondgelê. Die koue was so erg, ons het op die ou einde teruggegaan stasie toe, komberse gekry, weer teruggegaan veld toe, en toe binne-in een van daardie pype geklim en onder die komberse gelê. Die inbrekers het toe nooit daardie aand opgedaag nie.”

LEES OOK: Sy hande staan vir niks verkeerd nie

Ook by Graceland Hotel Casino & Country Club, Secunda, het daar herinneringe afgespeel.

Kapt. Pieter Smit en lt.kol. Hugo van Rooyen.

Onder die stories was nagsigapparaat betrokke gedurende lang aande van skofte tussen koffiemaak en lookout wees; interessante TV-kanale wat onverwags opduik en die volgende oggend voor opgedok moes word, ekstra geld onderdeur die badkamerdeur vir nog ’n ronde op die masjiene en die volgende oggend se ontbyt.

Vir Smit sal twee eienskappe van sy vriend hom altyd bybly. “Hy het altyd gelag en hy was altyd daar, maak nie saak watter tyd van die dag of nag jy gebel het nie.”

Hy was gelukkig genoeg om die Maandag voor Hugo se dood die dag saam met hom deur te bring, soos hulle telkemale voorheen gedoen het. “Hy het pas teruggekom van verlof af en hy het saam met my rondgery die dag – op voorwaarde dat hy vir ons toebroodjies vir die pad gemaak het.”

LEES OOK: Kansa begunstigde van vierde Innibos In jou huis-konsert se fondse

Hulle het op ’n sypaadjie gesit, die broodjies geëet en gesels oor enigiets en alles van die lewe daardie dag. Smit sê hy is besonder dankbaar vir die tyd wat hulle saam spandeer het.

“Dis net weer ’n bewys dat more nie gewaarborg is nie.”

Hugo se jonger broer, Christo, het dieselfde gereken. “Ek het Sondag lank met hom gepraat en is so dankbaar daarvoor.”

In die tydjie wat hy nou in die Laeveld spandeer het met roudiensreëlings en meer, het hy die geleentheid gehad om van Hugo se vriende te ontmoet, en gesê hy swel sommer van trots.

“In my oë was Hugo ’n ongelooflike gentleman wat uit sy pad uit gegaan het vir ander; ek is trots om hom my broer te noem.”

Ook Hugo se verloofde, Emily, het hierdie eienskappe in haar vier jaar lange liefde en vertroueling beaam. “Hy het altyd so mooi met mense gewerk. Om te trou was in ons beplanning, maar die dood het ons ingehaal. Dit is nou my grootste berou.

“Hy was my kleinkinders se gunstelingpersoon, hulle het hom oupa Hugo genoem. Ek verloor loshande as hulle stem vir wie hulle die liefste is.”

Vanuit foto’s en herinneringe wat beide vriende en familie deel, is sy liefde vir draf ook duidelik. Hy het byna daagliks gehardloop. Hy was ’n atleet vir die polisie en het al die Comrades gehardloop, maar sy gunsteling was die Skukuza Marathon.

Hugo se gedenkdiens is op 22 Julie om 11:00 by die NG Gemeente Witrivier gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button