Hoërskool vier 100ste bestaansjaar vandag
Op Dinsdag 27 Julie het Hoërskool Lydenburg amptelik sy 100ste verjaardag gevier. Daar is heerlik gekuier en rondgespeel tussen lewensgrote syfers voor die kantoorgeboue.
Die amptelike eeufeesnaweek is eers van 1 to 3 Oktober, maar die skool het hul leerders met lekkergoed op Dinsdagoggend bederf, en daar is ‘n impromptu fotosessie gehou. “Wat ‘n voorreg om die skool se 100ste verjaardag te vier. ‘n Honderd jaar se trots, prestasies en dankbaarheid. ‘n Verdere belowende 100 jaar wat voorlê. Ons vier vanjaar die suksesverhale van mense se moeitevolle arbeid, sowel as hulle tyd en geld wat hulle belê het in ‘n opvoedkundige instansie wat ‘n baken geword het in die wye Mpumalanga. Terwyl ons die geskiedenis van die skool vier, is ons ewe opgewonde oor die nuwe seisoen wat voorlê. Ek nooi almal uit om saam padlangs die nuwe hoofstukke van die hoërskool te skryf,” het Michael van der Merwe, die skoolhoof, gesê.

Die bou en ingebruikname van Hoërskool Lydenburg (1921) kan ten volle aan Elias de Souza toegeskryf word. Ds GD Worst skryf in die Lydenburg Eeufees Gedenkboek (1850-1950): “Toe ons die eerste maal die voorstel agiteer vir ‘n middelbare skool, het ‘n vooraanstaande boer gevra, ‘As al die boere se seuns nou matrikulasie aflê, wie moet dan die koring saai?'”

Die departement sou net ‘n hoërskool goedkeur as daar 100 leerders bo st. 6 (gr. 8) was. Daarvoor moes ‘n koshuis gebou word. In 1917 was daar reeds ‘n koshuis in Lydenburg, maar nie een wat aan die nuwe hoërskool se vereistes sou voldoen nie. Die tweevierdiepingpastorie onder beheer van ds. C Jansen Weilbach (De Ark Gastehuis) is gebruik, maar dit was vir jong laerskoolkinders. Onder aandrang van De Souza, Nic Schoeman, C. Theo en Rabie het die projek afgeskop. Die destydse dorpsraad het vir die doel ‘n stuk grond en £10 000 gewillig. Vir die skoolkoshuis is ‘n gemeentevergadering gehou en die NG Moedergemeente het £14 000 toegestaan vir die bou van die kosbuis. Die geld is by Standard Bank geleen. As vergunning van die bank sou daar nie rente op die lening gehef word nie. Dis ongekend in vandag se dae. Hierdie koshuis het die hoërskool tot stand laat kom. Om meer inligting oor die eeufees te bekom, skakel gerus die skool: Ian Breitenbach by 013 235 2111 of Michelle Boshoff by 076 091 8401. ‘n Hele komitee werk reeds langer as ‘n jaar om ‘n fees der feeste te hou. Daar is reeds ‘n feesblad op Facebook met meer as 1 200 lede gestig. Dit sal sporadies nuus deel en meer inligting oor die feesnaweek bekendmaak. Volg die blad met die naam “Hoërskool Lydenburg Eeufees/Lydenburg Bond High School Lydenburg Centenary” en versoek om aanvaar te word. Die skool vra oud-leerders om kontak te maak en om staaltjies en ou foto’s aan michelle@steelburgernews.co.za te stuur, asook ib@lydens.co.za. Daar kan ook by die WhatsApp-groep aangesluit word by 082 729 6733. Dis belangrik dat oud-leerders, hul familie en vriende nie net vir die feesnaweek registreer nie, maar ook vir die LydenBond.
Gaan besoek asb. die skool op sosiale media en wens hulle geluk, volg op Facebook High School Lydenburg Hoërskool. Dié verjaardag gebeur immers net een keer in ‘n eeu.


