KYK: Anelia Heese se jongste boek ‘Diensplig’ op Kaapsehoop bekendgestel
Die gaste het gesellig saam met die skrywer Anelia Heese en De Wet Potgieter by Nagkantoor gekuier. Haar boek ‘Diensplig’ is nou op die rakke beskikbaar.
“Ons hakkel nie omdat ons stories moeilik is nie, ons hakkel omdat ons al die jare geglo het niemand wil na ons stories luister nie.”
So het Johan de Waal, oudweermaglid en staandemaglid, tydens die vrae-en-antwoord-sessie by die Nagkantoor op Kaapsehoop gesê, waar ongeveer 25 gaste in ‘n gesellige atmosfeer saam met die skrywer, Anelia Heese, en De Wet Potgieter tydens ‘n boekgesprek op Saterdag 15 Oktober gekuier het.

Heese se nuwe boek, Diensplig, hoekom stotter ons pa’s so? het in Augustus verskyn. Die skrywer hervertel die rou en soms skokkende stories van Suid-Afrikaanse mans wat in die 1970’s en 1980’s verplig was om weermagdiens te doen.
Video: Uittreksels van die boekgesprek by Nagkantoor op Kaapsehoop
In Diensplig praat van dié mans, baie van hulle vir die eerste keer, openhartig oor hul ervaringe.

“Is jy tevrede met wat jy uitgerig het met Diensplig?” het Potgieter Heese gevra.
LEES OOK: Epiese recce-aand by Nagkantoor propvol intense stories en kwinkslae
Sy vertel dat sy nog baie goed in die boek wou bywerk.

“Is enige skrywer ooit tevrede as sy boek op die rak is? Natuurlik sou ek nog goed wou bywerk, en nog gesprekke wou voer. Ek het op ‘n stadium ook gewonder of ek nie in die boek begin teem nie. Maar vir my was die belangrikste dat mense hieroor begin praat, want baie mense sê dat die waarheids- en versoeningskommissie ‘n pot tjol was, want dit het niemand gehelp nie. Maar mense vergeet dat die kommissie daar was vir die bevordering van versoening, nie vir die bereik daarvan nie, en dat die werk nog lank nie klaar is nie. Hierdie is net deel van die lang pad,” het Heese gesê.
Een van die gaste, Johan de Waal, vertel dat hy emosioneel geraak het toe hy Diensplig gelees het.

“Want ek het nie besef dat ek so verwese staan nie, ek het nie besef wat daardie tyd aan ‘n ou gedoen het nie. Dit is moeilik om jou stories te vertel.”
“Ons hakkel nie omdat ons stories moeilik is nie, ons hakkel omdat ons al die jare geglo het niemand wil na ons stories luister nie.”
“Jy lieg, jy oordramatiseer, en ons lieg en verdring mekaar as ons nie met mekaar daaroor praat nie,” het De Waal gesê.

Heese het ná die gesprek lekker saam met die gaste gekuier en hulle kopieë van haar jongste boek onderteken.
LEES OOK: Bacchus Nel onthaal by Nagkantoor in Kaapsehoop