Angie vier haar verjaardag saam met familie in Mbombela
Angie Ferreira herstel goed na sy vir sewe weke in 'n koma was.
“Dit was so ‘n lekker dag om saam met my sussie ons verjaardag te vier,” vertel Daylene Ferreira, tweelingsussie van Angie Ferreira, wat op Dinsdag, 28 Oktober, hulle 27ste verjaardag gevier het.
LEES OOK: Groot finansiële terugslag vir Angie Ferreira
Angie sterk tans by die huis aan, nadat sy op 6 Julie 2025 ernstige breinskade tydens ‘n middernagtelike motorongeluk opgedoen het.
Sy was ná die ongeluk sewe weke lank in ‘n koma.
LEES OOK: 7 weke ná motorongeluk: Angie Ferreira groet haar ma weer
Sy het rehabilitasie by M-Care ondergaan, maar moes onlangs ontslaan word omdat die fondse vir haar behandeling opgedroog het.
“Dit gaan eintlik baie goed met haar, alhoewel sy nog ‘n lang pad het om te stap voordat sy ten volle herstel,” sê Antoinette Massyn, Angie se ma.
“‘n Mens staan verstom oor hoe ver sy gekom het danksy die spesialis-rehabilitasie wat sy ondergaan. Sy eet nou al self, gesels met ons en het selfs onthou dat sy hierdie week verjaar.”
Volgens Massyn, dring Angie – wat ‘n fiksheidsinstrukteur voor die ongeluk was – baie keer self daarop aan dat sy nog oefeninge wil doen. Die familie het intussen ‘n heeltydse versorger vir Angie aangestel. “Die twee kom ongelooflik goed oor die weg.”
LEES OOK: Mbombela-instrukteur eers 10 uur ná ongeluk opgespoor
Massyn sê dat Angie se gemoedstoestand oor die algemeen uitstekend is, maar raak soms moeilik as daar te veel mense om haar is.
“Haar brein word oorgestimuleer wat haar dan oorweldig.”
Intussen spook die familie om deur die BackaBuddy-skarebefondsingsprojek wat vir Angie gestig is, geld in te samel vir die opgehope mediese kostes wat betaal moet word.
LEES OOK: Angie se toestand stabiel maar steeds kritiek ná motorongeluk
Mense wat die gesin wil ondersteun, kan dié BackaBuddy-skakel volg: Backabuddy.co.za/campaign/funds-for-angie.
