Amanda Strydom stuur ‘n boodskap vanuit die hospitaal ná haar operasie
Amanda Strydom sterk aan ná haar val drie weke gelede tydens Innibos-kunstefees.
Amanda Strydom sterk goed aan ná haar val drie weke gelede tydens vanjaar se Innibos-kunstefees en haar operasie was ‘n reusesukses.
Strydom het by die gastehuis waar sy tuisgegaan het, gegly en geval. In die proses is die prostese van ‘n vorige heupvervanging beskadig.
LEES OOK: Innibos-val laat nie Amanda Strydom se kollig verdof
Sy het vanuit haar hospitaalbed ‘n boodskap aan haar volgelinge en bewonderaars op Facebook gestuur.

In die boodskap is dit duidelik dat niks hierdie Afrikaanse legende sal onderkry nie – en soos sy verlede week aan Laevelder by monde van Saartjie Botha gesê het: “The show will and must go on.”
Amanda se boodkskap
“Dis nou drie weke in ‘n hospitaalbed sedert my val op 3 Julie. Die groot operasie aan my linkerheup verlede Dinsdag was ‘n reusesukses, die twee daaglikse sessies met terapeute om weer te leer loop (vir nou eers met ‘n loopraam) is uitmergelend, maar ek vorder fluks. Ek sal huis toe kan gaan sodra ek meer mobiel is. Ek mis ons huis, my eie bed en my Tony. Hy kom elke dag hospitaal toe en dit sal lekker wees om deur hom versorg te word in ons eie nes. Dankie vir al die mooi wense en liefde, ek hou julle op hoogte van my vordering,” lees Strydom se boodskap.
Beterskap wense
Intussen het sowat 2 900 volgelinge hulle geliefde kunstenaar beterskap op Facebook toegewens.
LEES OOK: Amanda Strydom positief ná val tydens Innibos
Tina Ekermans skryf: “Herstel gou dat jy terug op die been en verhoog kan wees.”
Organiseerders van die Kalfiefees het op hulle beurt geskryf dat hulle aan Strydom dink in hierdie tyd en baie liefde uit Hermanus aan haar stuur.
“Baie dankie dat jy ons op hoogte hou. Ons is so bly dat dit goed gaan! Baie sterkte vir die res van die herstelproses. Ons weet dit sal sommer baie gou baie beter wees, want jy is ‘n formidabele vrou en ons Liewe Vader sal mooi na jou kyk,” het Lindie Sutherland van den Berg laat weet. ·
“Liewe Amanda, wees sterk en vol moed! Jy loop die pad soos ‘n oorwinnaar,” skryf Jane Frances Louw.
Laevelder sal haar volgelinge en bewonderaars op hoogte hou sodra sy uit die hospitaal ontslaan is.
Strydom het Donderdag haar 70ste verjaarsdag gevier.
