Recce-storieaand bring Spesmagte-veteraan se Bosoorlog-verhale na Nagkantoor
Voormalige Spesmagte-operateur deel geheime van die Bosoorlog.
Dit is weer tyd om skouers te skuur met voormalige lede van die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte tydens die jaarlikse Recce-storieaand by Nagkantoor op Saterdag, 1 Augustus.
Vanjaar se geleentheid fokus op die wedervaringe van S.W.
Fourie en sy makkers tydens sy dekade as spesmagte-operateur en bied gaste ’n unieke kykie agter die skerms van operasies gedurende die Bosoorlog.
Soos in vorige jare word ’n volgepakte saal en gesellige samesyn na afloop van die verrigtinge verwag.
Fourie se boek, ”Sierra Whiskey: Tien jaar in die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte”, gaan ook bespreek word.
LEES OOK: VIDEO: Wouter Basson se ‘Wedervaring’ laat Nagkantoor met wyse woorde kook
Hy het sy militêre loopbaan as nasionale dienspligtige by 1 Spesiale Diensbataljon in Bloemfontein begin.
Nadat hy vrywillig aangesluit het, het hy ’n jaar later die uiters veeleisende keuringsproses vir die Spesiale Magte – saam met uitgebreide opleiding in onder meer mediese vaardighede, seinwerk, basiese valskermspring, bosoorlewing en kleinskaalse taktiek – suksesvol voltooi. Fourie het uiteindelik gekwalifiseer, ’n prestasie wat slegs deur ’n klein persentasie van sy keuringsgroep behaal is.
As operateur en plofstofdeskundige by 1 Verkenningskommando (later 1 Verkenningsregiment) in Durban was Fourie tussen 1978 en 1988 by die meeste van die spesmagte se groot operasies betrokke.
Boek vol stories
In sy boek vertel hy onder meer van sy eerste operasies in Mosambiek, waar hy en sy span die Rhodesiese SAS se D-eskader as dekmantel gebruik het, asook van die seegebaseerde aanval op die Lobito-olieraffinadery en die vernietiging van die Girual-brug in Angola.
Die boek bevat ook talle foto’s wat nog nooit tevore gepubliseer is nie.
Gedurende sy tyd by 1 Recce het Fourie as spanleier gedien, in HALO-valskermspring gekwalifiseer, en verskeie militêre toekennings vir sy diens ontvang.
Hy het die leër in 1988 as sersant-majoor verlaat om ’n burgerlike loopbaan te volg.

’n Skyfievertoning vorm deel van die aand en Fourie gaan vertel van see-, lug-, grond-, en stedelike oorgrensoperasies.
LEES OOK: Epiese recce-aand by Nagkantoor propvol intense stories en kwinkslae
As lid van 1 Verkenningsregiment se Bravo-groep is hy soms tot agt maande lank oor die grens ontplooi, terwyl die ondersteuning wat aan oud-Rhodesië verleen is, ook bespreek gaan word.
Gaan geniet die aand saam
Na afloop van die aanbieding kry gaste die geleentheid om met Fourie en ander voormalige spesmaglede te gesels.
Die Recce-storieaand is ’n moet-bywoongeleentheid vir enigiemand wat in die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte en die Grensoorlog belangstel.
Kaartjies beloop R200 per persoon en sluit ’n heerlike vingerete in.
Vir besprekings, skakel Theo van Huysteen op 083 564 5136 of Isobel Potgieter op 072 450 1992.

