Vir botter of vir wors
Maar wat as jy oor 10 jaar terugkyk en die persoon wie jy destyds gekies het om jou lewe mee te deel, is skielik 'n vreemdeling?

Ek is mal oor Alanis Morisette se musiek. Haar album, Supposed Former Infatuation Junkie, bevat ‘n snit met die naam: Are you still mad? Van die lirieke lui: “are you still mad that I gave up, long before you did?”
Dit laat my wonder of ons nie te vinnig tou opgooi in ons verhoudings nie. Sodra iets (of iemand) ons nie meer pas nie, wil ons van dit (of hom of haar) ontslae raak.
‘n Kar word oud en ons skroom nie om dit in te ruil vir ‘n nuwer model nie. Ons klere vorm oor die jare wolletjies van al die dra. Dit is nog net so bruikbaar, maar nee, dit is oud, nie meer vir ons mooi nie en word uitgegooi om plek te maak vir nuwes.
Trouens, ons het só gemagsugtig geraak dat ons deesdae selde huishoudelike toestelle soos yskaste of wasgoedmasjiene na werktuigkundiges vat om te herstel. Dis te veel moeite en die goed breek in elk geval net weer, redeneer ons. Ashoop toe met jou!
Hoekom nie dieselfde benadering volg met verhoudings nie? As dit nie werk nie – beweeg aan. Gooi weg. Skryf af. Maak toe die boek. Ou jakkalsies steek tog in elk geval net weer later hul koppe uit om die wingerd te kom verniel.
My ouers het hierdie jaar hulle 41ste huweliksherdenking gevier. Daar was tye dat ons as kinders gewens het hulle wil net skei en klaarkry! Hulle baklei elke keer oor dieselfde kwessies en gebruik dieselfde dekonstruktiewe maniere om konflik op te los. Ondernemings om volgende keer nie dieselfde fout te begaan nie, word nie lank gehou nie.
Vriende kerm ook altyd by my oor dieselfde goed wat hul wederhelftes verkeerd doen, oor en oor.
Vandag is my ouers mekaar se beste vriende. Uiteindelik waardeer hulle mekaar, is hulle dankbaar vir mekaar, aanvaar hulle mekaar (onvoorwaardelik).
Ek dink jy moet ‘n besluit neem: besluit watter eienskappe van jou maat jy nié mee kan saamleef nie en besluit dan of dit só ‘n groot kwelling is dat jy die verhouding op grond van dit sal beëindig.
Blou Bul-ondersteuners is vir my ‘n vreemde konsep. Mense wat gholf interessant vind, ondervind myns insiens ‘n gebrek aan stimulasie. Mans (en vroue) met mullets, moet voor die voet geskiet word. Nie regtig nie. Ek kan met dié dinge saamleef. Ek sal nie (sommer) ‘n man die deur wys op grond van dit nie.
Ek kan egter nié ‘n verhouding met ‘n man volhou wat nie ‘n Christen is nie. Ek kan nié met ‘n man saamleef wat dink geweld teen vroue is in sommige gevalle geregverdig nie.
Maar wat as jy oor 10 jaar terugkyk en die persoon wie jy destyds gekies het om jou lewe mee te deel, is skielik ‘n vreemdeling? Jy kry huwelike wat in die skeihof draai omdat die vrou, drie kinders later, 30 kilogram gewig aangesit het en haar man haar nie meer seksueel prikkelend vind nie. Hy redeneer dat dit nie die vrou is op wie hy verlief geraak het nie. Dat dit nié dieselfde mens is wie hy onderneem het om onvoorwaardelik lief te hê nie. Sy word weggegooi, soos die ou trui met die wolletjies.
Wat het geword van vir botter of wors? Tot die dood ons skei? Dalk is die probleem dat ons te min ruimte laat vir verandering. Die mens is tog ‘n veranderende wese. Verander gedurig van voorkeur en belangstellings. Weer eens dink ek dit het te doen met waarmee jy kan saamleef en waarmee nié.
Soos ‘n man wat skielik begin drink het. ‘n Vrou wie se oog nou na al die jare dwaal. Almal het hulle perke. Selfs die Bybelse aanmaning: “om sewentig maal sewe keer te vergewe”, beteken immers jy kan net 490 keer anderpad kyk (as jy dit letterlik interpreteer).
Ek dink… Ek weet nie… Ek wonder maar hardop.
