Nuwe Afrikaanse rolprent bring weer twee geliefde akteurs bymekaar
Sandra Prinsloo en Marius Weyers is vir die eerste keer in jare weer saam op die silwedoek te sien in Twee grade van moord.
Vir die eerste keer in dekades is die geliefde Afrikaanse akteurs, Sandra Prinsloo en Marius Weyers, weer saam op die grootskerm te sien.
Hulle nuwe rolprent Twee Grade Van Moord word eersdaags vrygestel.
Dit speel af in die Kaap met die bekende regisseur, Gerrit Schoonhoven, aan die stuur van sake.
Aleksa Cloete (Sandra Prinsloo) is ‘n bekende Kaapstadse sielkundige met ‘n topverkoper boek wat haar intellektuele standpunt oor die liefde onderskryf. Tog weerspreek haar lang en gelukkige huwelik met Ben (Marius Weyers) dit.
Hul enigste kind, Christiaan (Roelof Storm), was geforseer om in sy grootword jare baie staat te maak op die liefde van sy “tweede Ma”, die lojale huiswerker, Fy Abrahams (Shaleen Surtie-Richards).
Aleksa onderneem om deel te wees van ‘n dokumentere realiteitsreeks waarin daar gefokus word op haar terapeutiese werk onder vrouens wat liefde met pyn verwar en een van haar pasiënte, Tanya Basson (Hilda Cronje), stem in om die proef-konyn te wees.
Ben kry ‘n masiewe hartaanval en Tanya kom terselfdertyd by Aleksa se huis aan met die nuus dat sy haar kêrel tydens ‘n geweldadige argument vermoor het. Aleksa besef dat sy Tanya se emosionele toestand heeltemal onderskat het en op dieselfde tyd deel Ben haar mee dat hy ‘n belangrike besluit oor sy eie toekoms en lewe gemaak het.
Prinsloo se verhoog- en film loopbaan strek oor 30 jaar. Gedurende hierdie tyd het sy hoofrolle in meer as 100 verhoogproduksies, agt vollengte rolprente en talle televisieproduksies vertolk.
Sy het ‘n reputasie as ‘n uitstaande aktrise in baie lande oorsee, insluitend Engeland, Frankryk, Duitsland en die Verenigde Nasies.
Weyers is een van Suid-Afrika se mees bekende en geliefde akteurs. Sy uitstaande optredes op die verhoog en in rolprente het hom volksbesit gemaak.
Hy het reeds in meer as 35 vollengte rolprente en 100 teaterproduksies opgetree, insluitende Warner Bros se Blood Diamond, Catch a Fire, Red Dust, Stander en Katinka Heyns se Paljas.
Twee Grade Van Moord word op 22 Julie landwyd in teaters vrygestel.
- You may also be in: Oscar and Reeva’s story to be told in documentary
