Oud-Laevelder maak opgang in rolprentwêreld
Vuil wasgoed, wat Vrydag landwyd in rolprent-teaters begin draai het, word beskryf is 'n baie snaakse, vars Afrikaanse komedie.

MBOMBELA – Stiaan Smith se veelsydigheid ken kennelik geen perke nie.
Hierdie voormalige leerling van Hoërskool Bergvlam is vanaf gister in die nuwe Afrikaanse komedie, Vuil Wasgoed te sien.
Hy het onlangs die hoofrol vertolk in die romantiese komedie, Sy Klink Soos Lente, waarvoor hy ook die draaiboek geskryf het. Hy is beter bekend as skrywer, ook van die gewilde kykNet-reeks, Hotel, en die Silwerskerm-bekroonde Beurtkrag.
Lees meer: Plaaslike rolprentvervaardiger by Silwerskermfees bekroon
Hy het die afgelope naweek sy lyf ook dokter gehou in die dokudrama Hartstog wat handel oor die eerste suksesvolle hartoorplanting, soos uitgevoer deur Chris Barnard. Dit is Sondag op kykNet, presies 50 jaar na die operasie uitgevoer is, uitgesaai.
Nou vertolk hy die rol van ene Jackie Jazz, ‘n moeilike, venynige sekuriteitswag in wie se hande die twee ongelukkige hoofkarakters van Vuil Wasgoed se lot val in dié aksie-komedie.
Hulle, vertolk deur die rolprent se vervaardigers Bouwer Bosch (wat die klankbaan vir Sy Klink Soos Lente geskryf het) en Bennie Fourie (saam met wie Smith aan Hotel gewerk het) besit ‘n kitswassery.
Hulle leen een aand van die klante se klere vir ‘n partytjie, en word so die hoofverdagtes in ‘n moord…
Smith beskryf dit as iets vars en nuut. “Dit het ‘n baie oorspronklike styl wat baie mense gaan waardeer,” vertel hy aan Laevelder.
Hy het die kans aangegryp om weer saam met sy ou vriende te werk. Hy geniet die komedie wat Fourie en Bosch bring en hoe die rolprent afgerond is.
“Dit is baie opwindend. Die komedie is natuurlik, waar dit baie maal geforseerd is.
“Daar is ‘n lekker speel-verhouding. Dit is maklik om nuwe grappe na die partytjie toe te bring.”
Tot die aksietonele is eg. “Ek het steeds ‘n rugpyn van toe Fourie my met ‘n deel van ‘n tafel geslaan het.”
Vuil Wasgoed se pas is ook lekker vining. “Dit gaan jou aandag gryp en as jy weer sien, is dit verby.”
Die atmosfeer op stel kom deur op die skerm, en die skep daarvan het baie te make met die regisseur, Morné du Toit.
Hy voeg by dat niemand die rolprent hoef te gaan kyk nie. “Maar om dit mis te loop is om uit te mis op ‘n baanbrekerfilm. Dit is regtig van internasionale gehalte.”
Ook met: Tim Theron, Nico Panagio, Louis Minnaar, Simoné Nortmann en Leandie du Randt Bosch in.
Lees ook: Innibos ken kwaliteit en weet local is lekker
