EntertainmentLifestyle

Jennifer Zamudio deel haar #Hartgeheime

Jennifer Zamudio verstaan beslis die kuns om met goeie musiek harte 'n bietjie vinniger te laat klop.

MBOMBELA – Sy weet net hoe om haar gehoor van pure lekkerte in hoendervleis te laat uitslaan, en haar jongste vertoning, #HARTverwant bevestig dit.

Die vertoning is Zamudio op haar beste en bestaan uit liedjies vanuit al 11 haar albums wat die woord “hart” in die titels of lirieke bevat.

Sy bring haar toer ook Vrydag Mbombela toe.

SEE HERE: Jennifer Zumudio live at Kwanyoni Lodge

Hierdie vertoning, wat beloof om jou op ‘n emosiele musikale reis van herontdekking en waardering te neem, is op 9 Februarie by Kwanyoni Lodge te sien. Zamudio, wie se splinternuwe album rondom Julie vrygestel gaan word, het Laevelder te woord gestaan om meer oor die konsert te vertel.

  • #HARTverwant is deur jou pa geïnspireer. Vertel ons meer van hom.

My pa was seker my grootste aanhanger en ondersteuner. Elke keer wanneer ek in die ateljee aan ‘n nuwe produk gewerk het, het ek vir hom luistersnitte gestuur waarop hy sy “stempel van goedkeuring” moes plaas. Toe, op ‘n dag, vra hy my: “Moet al jou liedjies dan die woord ‘hart’ in hê?”

Na sy afsterwe in Augustus 2016, het ek al my liedjies wat die woord “hart” in die titel of in die liriek het, bymekaar gesit en ‘n vertoning daarmee saamgestel en so is #HARTverwant gebore. Ek het ook tot die besef gekom dat ek mal is daaroor om liedjies te skryf wat handel oor alle fasette van die liefde.

  • Jy is verlede jaar by die Ghoema-toekennings as die publiek se gunsteling-vrouekunstenaar aangewys. Wat omtrent jou verhoogpersoonlikheid en musiek dink jy resoneer só met mense?

Ek doen wat ek doen tot die beste van my vermoë en bied dit aan op die eerlikste manier. Ek dink mense voel dit aan. Ek hou daarvan om liedjies te sing waarmee mense kan identifiseer en dit is wanneer jou musiek met ‘n mens se siel begin praat.

  • Wat sou jy sê was jou grootste musikale invloed?

Ek kan niks uitsonder nie, ek het verskeie gehad, veral toe ek net begin het. Ek het egter deur die jare in die bedryf my eie klank gevestig en dit is ook my stempel wat deesdae beter bekend staan as die zamjam.

  • Hoe sou jy sê het jou klank oor die afgelope 17 jaar verander?

Ek sal sê redelik! In die begin was dit maar soos ‘n lucky packet – jy probeer iets en dan weer iets anders, totdat jy jou sit kry en een voel met dit wat jy probeer. Daarvandaan word dit deel van jou. Ek dink ek het my sit gekry alhoewel ek van tyd tot tyd die behoefte het om net so ‘n klein biejtie rond te skuif.

  • Wat inspireer die musiek wat jy nou maak?

Temas, ongetwyfeld die liefde, want dit is een waarmee elke liewe individu kan identifiseer, maak nie saak op watter vlak nie. Verliefdheid, groot liefde, die hartseer gedeelte en die verlies daarvan. Verder ook hoop en geloof – dit wat jou maak vasklou en vorentoe beur.

  • Jy is by KKNK “ontdek”. Die Laeveld is baie trots op sy eie kunstefees, Innibos. Waarvan hou jy van kunstefeeste? Wat was vir jou ‘n baie spesiale optrede by so ‘n fees?

Ek lief die groot feeste – daar is soveel meer mense om jou musiek aan bekend te stel! Innibos was en is nog steeds een van my gunstelingfeeste. My grootste loopbaan-oomblik was by Innibos se afskopkonsert in 2013 waar ek ongetwyfeld nog voor my grootste gehoor tot nog toe opgetree het.

Zamudio se vertoning by Kwanyoni Lodge op 9 Februarie begin om 20:00 maar die hekke maak reeds om 18:00 oop. Kaartjies beloop R150 per volwassene en R75 per kind onder 12. Dit sluit ‘n Panarottis pizza- en pastabuffetete in. Alle opbrengste ten bate van Sanca Laeveld.

ALSO SEE: Funds received from the National Lotteries Commission put to good use by Sanca

Navrae: 084-208-6779. Moenie haar warm, sielvolle stem, gekombineer met haar vernuftigheid op die kitaar, misloop nie.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button