Die Groot Appel wink vir Xander
Xander Goosen is tuis op enige verhoog en skrik nie vir die kollig nie. Sy prestasies en talente in die uitvoerende kunste bied aan hom die geleentheid om binnekort Amerika toe te gaan.

MBOMBELA – Boonop is hy ‘n kranige rugbyspeler vir Curro Neslpruit se eerste rugbyspan.
Xander, ‘n gr. 11-leerling, speel klavier en kitaar, neem aan talle redenaars- en verskeie toneelkompetisies deel en vermaak die afgelope twee jaar feesgangers by Innibos met sy sangtalent. Dit maak van hom ‘n drievoudige bedreiging in kunstekringe.
Lees ook: Boek oor gaydebat onder loep geneem
Verlede jaar het hy ook die senior kultuurpersoonlikheidstoekenning van sy skool ontvang asook die toekenning vir die veelsydigste hoërskoolleerling by die Nelspruit Eisteddfod.

Hy is een van vyf jong akteurs in Suid-Afrika wat deur die New Yorkse Filmakademie (NYFA) genooi is om vanjaar tydens die Junie/Julie-skoolvakansie aan een van hulle tienerkampe in New York deel te neem. Hy is onlangs deur die Just You-agentskap geteken en hulle het aanbeveel dat hy die toneelspel-vir-filmkamp bywoon.
Xander voeg by dat hy aanvanklik by die musiekteaterkamp sou aansluit, maar daarteen besluit het aangesien die filmbedryf vir hom meer geleenthede bied.
“Ek beoog om ná skool dalk drama te gaan studeer. Hierdie kamp sal my nie net die nodige vaardighede leer om in die filmbedryf te oorleef nie, maar sal ook baie goed op my CV lyk. Boonop is dit ‘n ongelooflike groot eer en voorreg.”
Hy het reeds ‘n talentgebaseerde beurs van NYFA ontvang, maar moet steeds ‘n allemuntige bedrag bymekaarskraap om hierdie wonderlike geleentheid mee te maak. Enige donasies of borgskappe sal dus baie welkom wees en inligting of navrae kan aan Xander gerig word by xandergoosen2@gmail.com.
Hierdie jong man laat die kunste-wêreld aan sy kunssinige lippe hang.
Lees ook: Verskillend, maar tog ewe gedrewe
