Klink ‘n glasie op puik aanbiedings
Verskeie leefstyl-produksies op die Innibos-program bied vanjaar 'n welkome en aangename verposing tussen teater, boeke en musiek.

• Stroomop is die nuwe rolprent van Donnalee Roberts en Ivan Botha wat in Augustus landwyd in teaters te sien sal wees. In dié rolprent moet vyf vroue talle struikelblokke oorkom tydens ‘n roei-ekspedisie op die Oranjeriver. Stroomop Inspirasie bou voort op die tema om kop bo water te hou te midde van stroomversnellings en diep waters van die lewe. Donnalee, Ivan, Simoné Nortmann en KateRok sal gesels oor onder meer selfontdekking, vergifnis en hoe vroue mekaar kan vier, terwyl almal heerlik kan saamkuier met ‘n skeutjie musiek, ‘n soetigheidjie en ‘n oulike geskenkpakkie. Dis die ideale ma-en-dogter- of vriendinne-kuier tydens die fees. Saterdag 30 Junie om 11:00.
• Kevin Leo en gunsteling Koekedoor Mareli Visser gaan die een spreekwoor-delike haas na die ander uit die hoed pluk tydens die verrassingsete op Vrydag 29 Junie. Van die intrapslag af moet jy fyn kyk, want die verrassings is soms in die mees onverwagse gedaantes en uit alle oorde. Wees verseker, ál jou sintuie sal ingespan en bederf word!

• In Skoonlief en die Ondier vertel Chris Koch meer oor die geheimenisse van enkelmoutwhisky uit Skotland aan die hand van dié bekende sprokie. Dit is ‘n lekker lighartige en leersame whiskyreis en pure proe-ervaring.

• Voorts is daar die ClemenGold Gin-proe. ClemenGold se smaaklike mandaryne is gebruik om ‘n boetiekjenewer te distilleer wat selfs die kieskeurigste fynproewer sal tevrede stel. Kom leer hoe hierdie drankie opgekikker kan word met allerhande geure, terwyl Natascha C en Henry-John Williams met goeie kontinentale musiek in Prost! Op het jenever van het leven die klankbaan verskaf.
• Erns Grundlingh is die toerleier op die ClemenGold Boerdery-toer na ‘n plaas aan die buitewyke van Mbombela waar ClemenGold-mandaryne verbou word. Dit is ‘n interaktiewe plaasbesoek en natuurwandeling saam met megaboere Abraham van Rooyen en Willem Kieviet. Jy kry ook jou eie boksie ClemenGold-vrugte. Onthou gemaklike stapskoene.
Die volledige Innibos-program is by innibos.co.za en kaartjies by Computicket beskikbaar.










