Luiperds laat vere waai op Olënpark
Daar was geen keer aan die Luiperds se driedruk ambisies vandag op Olënpark nie, toe hulle sewe drieë teen die SWD Arende in ‘n 49-31 oorwinning behaal het. Hierdie Curriebeker Eersteliga kragmeting was ‘n herhaling van verlede jaar se Curriebeker Eersteliga eindstryd wat die Luiperds ook gewen het – hierdie keer wel op meer oortuigende …
Daar was geen keer aan die Luiperds se driedruk ambisies vandag op Olënpark nie, toe hulle sewe drieë teen die SWD Arende in ‘n 49-31 oorwinning behaal het.
Hierdie Curriebeker Eersteliga kragmeting was ‘n herhaling van verlede jaar se Curriebeker Eersteliga eindstryd wat die Luiperds ook gewen het – hierdie keer wel op meer oortuigende wyse.
Die eindtelling vertel nie eintlik die volledige prentjie nie, met die Luiperds wat na 54 minute alreeds 44-0 voorgeloop het. Daar was geen genade vir die Arende nie, veral na rustyd toe die Luiperds drie vinnige drieë ingepalm het.
Die Luiperds nuweling, Dean Gordon, was een van die staatmakers op regtervleuel. Hy het op sy debuut twee keer gaan druk en kan tevrede wees met sy eerste 80 minute in die groen en rooi trui.
Sy vleuelmaat, Bradley Moolman is ook met ‘n drie beloon vir sy goeie werk aan die ander kant van die veld. Adriaan Vermeulen, Gene Willemse en Loftus Morrison druk die Luiperds se ander drieë.
In die voorry was Dewald “Panda” Dekker ‘n yster gewees en keer op keer vir SWD in die grond in geskrum.
Oudergewoonte het Jeandré Rudolph en Juan Language ook goeie vertonings in die losvoorry gelewer.
SWD het self na hulle 44-0 agter was nie gaan lê nie en die laaste 20 minute gedomineer. Dit laat ‘n mens wonder of die Luiperds moeg geraak het en of die Arende skielik weer begin leer vlieg het.
Die Arende kan hierdie laaste 20 minute waar hulle vyf drieë danksy, Martin du Toit, Kurt Haupt, Daniel Roberts en Christo du Plessis gaan druk het, as ‘n groot positiewe vat.
Die Luiperds sal wel aan hulle verdediging wil werk en probeer om nie so baie punte weg te gee nie.
Die Luiperds gaan nou onoorwonne in die halfeindstryde in en is beslis een van die gunstelinge om weer die trofee te vat.
















