Potch Dorp Rugbyklub is na drie wedstryde die voorlopers van die 2021 Neserliga met nog twee wedstryde oor teen Klerksdorp Rugbyklub en Hartbeesfontein.
Hulle oortuigende 50-5 oorwinning teen Stilfontein Hurricanes plaas Potch Dorp bo aan die punteleer van die Neserliga met 13 punte.
Hulle is tans twee punte voor Ikageng in die tweede plek en Klerksdorp in die derde plek met 10 punte. “
Ek voel baie goed oor verlede Saterdag se uitslag. Ons het heel week gepraat van geleenthede en hoe om daardie geleenthede te gebruik en af te rond. Ek dink ons het amper al ons geleenthede gebruik,” noem Potch Dorp se hoofafrigter, Joe Smith.
Hy noem ook dat die span se kombinasies ook al omtrent 100 persent uitgesorteer is vir die komende wedstryde. Potch Dorp speel juis komende Saterdag, 29 Mei teen Klerksdorp Rugbyklub in Klerksdorp, wat ‘n titaniese kragmeting tussen dié twee buurdorpe sal wees. Die laaste keer wat Potch Dorp teen Klerksdorp te staan gekom het was in 2020 met Potch Dorp wat met 8-5 die wenners was.
Volgens Smith speel sy span nou elke wedstryd met die oog op die beker.
“Ons vat nou elke naweek as ‘n finaal,” beklemtoon hy. 



